Die lyke van ’n Suid-Afrikaanse egpaar is in afsonderlike vertrekke in hul huis in die Amerikaanse deelstaat Texas gevind.

’n Familielid het aan Huisgenoot bevestig die egpaar, Hardus en Dalene Scheepers, is Donderdag omstreeks 11:00 (Amerikaanse tyd) dood in hul huis in die stad Houston aangetref.

Bitter min besonderhede is nog oor hul dood bekend en groot onsekerheid heers nog oor die oorsaak van hul dood, sê die familielid.

Boodskappe van medelye stroom in en getuig van groot skok en ontnugtering. “Ai! Mens se hart ruk in jou borskas . . . ” skryf ?Retha Scheepers Knoetze op Dalene se Facebook-muur.

Esme Van Zyl Knoetze sê:? “Dalene, my vriendin en buurvrou vir jare . . . my hart is stukkend.”

“Ek het nie woorde nie. Julle verlies is afgryslik,” skryf Annebel Lubbe.

Die egpaar laat twee volwasse kinders agter. Hul seun studeer in die VSA en hul dogter en haar man woon in Suid-Afrika.

Rhona Smith? skryf in ’n Facebook-boodskap: “Ai, Dalene en Hardus: woorde is daar nie . . . wat sê mens – hoe troos ons julle kinders?!”