Die jaarlikse Global AgeWatch-indeks (wat vir die derde keer deur Age International uitgereik is) stel ’n ranglys op van lande volgens die lewensgehalte van bejaardes.

Die indeks is gegrond op bejaardes se inkomstesekuriteit, gesondheid, opvoeding, werkgeleenthede en sosiale verbondenheid. Volgens hul ranglys is Switserland die beste plek vir bejaardes, en die slegste (vir die derde jaar agtereenvolgens) is Afganistan.

Noorweë, Swede, Duitsland en Kanada het die topvyf gehaal en Malawi, Mosambiek, Wesbank/Gaza en Pakistan beklee die ander laagste vyf plekke.

Ongelukkig beklee Suid-Afrika slegs die 78ste op die lysie van 95 lande.

Die kwessie van ’n verouderende bevolking het onlangs aktueel geword nadat daar in studies bevind is die wêreldbevolking gaan waarskynlik op ’n reusagtige 11 biljoen teen 2100 staan (dis tans 7 biljoen), en dat die persentasie van mense bo 60 gaan aanhou styg. Dié verskynsel, bekend as bevolkingsveroudering, gebeur weens verhoogde lewensverwagting en dalende vrugbaarheidskoerse.

“Die Global AgeWatch-indeks stel ons in staat om broodnodige aandag te vestig op hoe belangrik dit is om te reageer op die vinnig groeiende aantal ouer mense in die wêreld,” sê Chris Roles, direkteur van Age International. “Dit wys vir ons watter lande is goed voorbereid op die ongekende demografiese verandering en wys dat wanneer regerings plan en in hul verouderende bevolking belê, die samelewing as geheel daarby baat sal vind.”

Bronne: ageinternational.org.uk, dailymail.co.uk