Die uitslae van toetse om bakterieë op te spoor en om die hoeveelheid yster in die verkleurde water in Oudtshoorn te bepaal, sal na verwagting Donderdag bekend gemaak word.

[caption id="attachment_168592" align="alignnone" width="600"]Foto: Gys Visser Foto: Gys Visser[/caption]

Die water, wat uit die Koos Raubenheimer-dam gehaal is, het glo verkleur weens modder asook die oorblyfsels van gebrande plantegroei in die wateropvanggebied, het die munisipale waterdepartement Woensdag gesê.

Die verkleuring het plaasgevind ná swaar reën en vloede in die dorp die afgelope naweek, het die Oudtshoorn-munisipaliteit in ’n verklaring gesê.

“Hoewel die munisipale waterdepartement geen rede het om te glo dat die water onveilig is vir menslike gebruik nie, moedig ons mense aan om die water te kook voor hulle dit vir menslike gebruik wil inspan, hangende die uitslag van die toetse,” het die burgemeester Colan Sylvester gesê.

Volgens ongegronde boodskappe in die sosiale media het die water veroorsaak dat mense in die hospitaal beland het, het hy gesê.

[caption id="attachment_168594" align="alignnone" width="600"]Foto: Gys Visser Foto: Gys Visser[/caption]

“Ons kan egter bevestig beide die Oudtshoorn provinsiale hospitaal en die Klein Karoo Medi-Clinic het nie enige voorvalle gehad wat verband hou met die bewerings in die sosiale media nie,” het Colan gesê.

Bron: News24