Kersfees is ’n tyd vir gee. Maar heimlik wens ons amper almal ook vir iets spesiaals en opwindends in ons Kerskous. ’n Paar bekendes vertel wat als op hul wenslysie is. En in die gees van Kersfees, wat hulle gaan gee.

DAWIE ROODT

Die ekonoom en Dagbreek-aanbieder Dawie Roodt wil ’n affêrinkie vir Kersfees hê. “Wat ook al, solank dit die nuutste is en verkieslik met elektrisiteit werk. Goed wat met ligte werk en aan- en afskakel, maak my opgewonde.”

Dis Dawie en sy vrou Marina se eerste Kersfees saam met die tweeling Yulia en Daria (8 maande). Dawie het besluit om sy vrou met ’n borsspeld met twee diamante daarop te bederf; dié twee diamante simboliseer die tweeling.

DOWWE DOLLA

Margit Meyer-Rodenbeck, oftewel Dowwe Dolla, se wens is om praktiese en bruikbare geskenke te kry.

“Mmm, ek hou van boeke, legkaarte en sulke goed. Maar ek dink die heel beste geskenk sal wees as iemand my rekenaar sal vat, al my foto’s uitdruk en in albums plak.”

Haar dogter Luca se geskenk is nog in wording. “Luca (4) wil vreeslik graag ’n pienk grimeertafeltjie hê met regte grimering. Die tafeltjie het ek nou gekry en dis te oulik, maar ek gaan vir seker nie regte grimering in haar Kerskous gooi nie. Sy gaan speelgrimering kry.”

CARIKE KEUZENKAMP

Die sangeres Carike Keuzenkamp sê daar is niks wat sy nog in dié stadium van haar lewe begeer nie. “Maar ek is mal oor boeke. Ek is ’n regte boekwurm; ek en my man Olaus. Daarom weet ek Olaus het al klaar vir my ’n sak vol boeke gekoop. En dis ook wat hy vir Kersfees gaan kry: ’n hele klompie boeke.”

Sy lees hoofsaaklik Afrikaanse boeke. “Dis vir my goed en ek glo daaraan om Afrikaanse skrywers te ondersteun. “Kobra, van Deon Meyer, is beslis op my lys en ook die kookboek Kokkedoor. Ek was mal oor die TV-program.”

Haar kleinkind Olaus jr. (2) het ’n karretjie gekry wat met ’n afstandbeheerder werk en waarop hy self kan ry en self met ’n pedaal kan trap.

“Hy is ’n slim mannetjie, maar elke ouma dink seker hul kleinkinders is,” lag sy. “Maar omdat ons lief is vir lees, het ek ook vir hom ’n klompie kinderboeke en opvoedkundige speelgoed gekoop en speletjies op die iPad afgelaai.”

Haar dogter, Maryke Gallagher, en skoondogter, Johanna, word met Carrol Boyes bederf, haar skoonseun, Greg, met hemde en boeke en haar seun, Werner, met ’n Walka, ’n mobiele televisie. “Dis so ’n uitvindsel waarop jy kan televisie kyk wanneer jy op so ’n plek is waar jy nie die Bulle se wedstryd sou kon sien nie!”

Danél Blaauw