Het jy geweet Suid-Afrika is die wêreldkampioen in branderplankry? Ons span het Australië (tweede) en Peru (derde) tydens die onlangse byeenkoms van die Wêreld-branderplankry-vereniging in Panama uitgestof.

Die spankaptein is Shaun Joubert (22), wat ook die individuele goue medalje in die ope mansafdeling gewen het en sodoende as die manskampioen gekroon is. Ons het met Shaun, ’n inwoner van Mosselbaai, oor sy ongelooflike vertoning gesels.

Hoe voel dit om die wêreldkampioen te wees?

Dis die beste gevoel ter wêreld. Ek het nie gedink dis moontlik nie! Ek het nie vir een oomblik gedink ek gaan wen nie, tot daar ’n paar minute in die eindstryd oor was en ek voorgeloop het. Ek het alleen daar gesit en my frokkie oor my kop getrek en gedink: O jinne, dis werklik, dit het nou net gebeur, ek is die wêreldkampioen! En toe gaan die sirene af en die volgende oomblik was ek op die strand besig om my vriende te omhels. Dit was amper te goed om waar te wees.

Is dit waar dat die Suid-Afrikaanse span Hier Kom Die Bokke ná die oorwinning gesing het?

Ons het! Dit was baie koel. Ons het dit gedoen nadat ek gewen het en het dit so geniet dat ons weer losgetrek het toe ons span goud wen. Ons het nie ’n oorlogskreet of iets gehad nie toe sing ons maar Hier Kom die Bokke! Die gees was ongelooflik! Ons het nie geweet ons het so pas gewen nie tot hulle Australië (wat silwer gewen het) aangekondig het en dit was baie onverwags en spesiaal. Om saam met die hele span om die verhoog te staan is iets wat ek nooit sal vergeet nie!

Wat dink jy het jou ’n voorsprong in die kragmeting gegee?

Ek dink my houding en my ervaring van deelname aan kompetisies. Ek was ontspanne en het dit baie geniet. Ek dink ook as jy jou nie te veel bekommer nie, is dit makliker om kanse te waag en dis wat ek gedoen het. Gelukkig het dit gewerk. Dit was net een van daardie weke dat alles in plek val. Ek het ook die junior wêreldkampioenskap se eindstryd gehaal en het geweet dit kan ’n lang week raak. Dis baie belangrik om aan en af te skakel. Ek was gefokus wanneer ek branderplank gery het en het weg van die water af behoorlik ontspan.

’n Branderplankry-kompetisie duur gewoonlik vier dae, maar die byeenkoms het agt dae aangehou. Was dit moeilik om deurentyd te konsentreer? Vertel ons ’n bietjie hoe jou daaglikse roetine gelyk het.

Ek het nie gesukkel om te fokus in die uitdunne nie; ek het ’n goeie roetine voor die uitdunne gehad. Dit was baie warm en ons was nie op die strand wanneer dit nie nodig was nie. Ons het huis toe gegaan, die lugreëling aangeskakel, baie water gedrink en uit die son gebly. Ek het voor die uitdunne na musiek geluister, meestal sodat mense nie met my moet praat nie. Ek hou daarvan om na die branders te staar, te kyk wat hulle doen en dan uit te gaan en my ding te doen. Die branders was baie soos dié by die huis en het, het nie nodig gehad om juis baie daaroor te dink nie. Jy moet dit net geniet en dis wat ek heelweek gedoen het.

Wat is volgende?

Ek gaan aanhou deelneem aan die wêreldtoer. Ek is baie gelukkig dat ek dit voltyds kan doen en neem alles in en geniet dit terwyl ek die kans het. Daar is ’n paar koel geleenthede wat voorlê! Ek is baie opgewonde!

Ons hoor jy het nie ’n borg nie. Dink jy dit gaan dalk nou verander?

Dis reg. Dit kan gebeur of dalk nie. Die bedryf sukkel op die oomblik; so ons sal maar sien. Dis nie hoekom ek branderplankry nie. Ek doen dit omdat ek lief is daarvoor. As iemand my wil ondersteun, sal ek baie bly wees en as dit nie gebeur nie, sal ek dit aanhou geniet en my doelwitte nastreef.

Sterkte, Shaun. Suid-Afrika is trots op jou!

Gaan lees Shaun se blog by http://shaunjoubert.wordpress.com. Dis hoofsaaklik foto’s en Shaun of sy pa, Anton – albei ywerige fotograwe – het die meeste daarvan geneem.

[caption id="attachment_37040" align="alignleft" width="538"]Shaun Joubert ry 'n brander in Panama Shaun Joubert ry 'n brander in Panama[/caption]

– Suzaan Hauman