’n Amerikaanse sjef wat in die Kaaiman-eilande woon, was skoon oorbluf toe sy onlangs ’n bottel met ’n boodskap daarin langs die see optel. Dis vyf jaar gelede sowat 13 000 km hiervandaan in Durban geskryf en in die see gegooi.

Die brief is deur 13 gr. 3-meisies aan die Laerskool Winston Park geskryf, wie se onderwyseres, Judy Cornish, vir hulle opdrag gegee het om oor hul weeklikse klastake en -lesse te vertel.

“Judy het gevra haar klas moet gereeld boodskappe skryf, dit in ’n bottel sit en dan tydens skooluitstappies in die see gooi,” sê die skool se rekenaar-onderwyseres en die bestuurder van hul Facebook-blad, Jacqui Fouche. Judy kon nie om kommentaar bereik word nie; die groep meisies, nou al almal op hoërskool, ook nie.

Jacqui vertel dat Judy dié keer vir kapt. Alexey Sotnikov, toe aan die stuur van die boot Atlantic Runner wat in die Durbanse hawe voor anker gelê het, gevra het om dit op pad Kanada toe oorboord te gooi.

Dié versoek het Alexey op 29 Oktober 2008 gehoorsaam, toe hy twee bottels, een met die meisies se boodskap en een met ’n groep seuns aan dieselfde skool se boodskap, in die Atlantiese Oseaan gegooi het.

Die seuns se bottel is nog soek, maar amper vyf jaar later het Sherri Hillman (45) in die Kaaiman-eilande na skulpe gaan soek en tot haar verbasing op die meisies se bottel afgekom.

“Ek het heel toevallig afgekyk en toe die bottel gesien,” vertel sy vir Huisgenoot op Facebook. “Ek het gesien die bottel het ’n kurkprop en daar is iets in wat na ’n boodskap lyk. Ek het gewonder of dit dalk die son se weerkaatsing is, maar toe ek die bottel optel, kon ek duidelik die opgerolde stukkie papier sien.”

Sy kon haar opwinding skaars beteuel en het dadelik met die skool kontak gemaak, wat ook nie hul ore kon glo oor die bottel wat so ver gedryf het nie.

Nou word daar omtrent oor en weer op Facebook geklets, maar Sherri hoop om in die nabye toekoms Suid-Afrika en die skool te besoek.

bottle2

-      Christiaan Boonzaier