Dit is ’n sonnige dag op ’n kampus in Kaapstad. Francois van Heerden, ’n getroude Vrystater in sy middel-40’s, staan op ’n stoep en kyk na studente wat sit en gesels.

Sy uitdrukking verteder toe hy ’n aantreklike manstudent, Christian Roodt (23), diep in gesprek met ’n ander jong man sien. Maar dan soen Christian hom op die wang en gee hom ’n drukkie.

Francois is duidelik ontsteld daaroor. Dan het hy seker geen kans by die outjie nie – of het hy?

Dis ’n toneel uit die rolprent Skoonheid, wat pas by die 64ste Cannes-rolprentfees in Frankryk met die Queer Palm-prys bekroon is.

Boonop was dit die heel eerste Afrikaanse rolprent wat in ’n ander kategorie, Un Certain Regard (’n Spesifieke Siening), vertoon is. Die kategorie is in 1978 ingestel vir rolprente van verskeie style en  visies, ‘‘oorspronklike en aweregse’’ werk wat om internasionale erkenning meeding.

Oliver Hermanus, die regisseur van Skoonheid, was in Parys, Frankryk, toe hy hoor sy fliek is gekies om by die fees vertoon te word. “Vir my is dit ’n reuse prestasie, want ek het regtig duim vasgehou dat Skoonheid hier sy première sou hê,’’ sê hy.

“In my kinderjare was Cannes net ’n lugspieëling, iets wat gelyk het of dit onbereikbaar is. Dit voel steeds soos ’n droom.’’  Skoonheid het die prys gewen vir sy uitbeelding van ’n man se worsteling met sy seksualiteit.

Lees meer in die Huisgenoot van 2 Junie. 

Volg Huisgenoot op Twitter.