Hy  het die legendariese Amerikaanse atleet Michael Johnson (nou 49) se wêreldrekord in die 300 m vir mans op die Golden Spike-atletiekbyeenkoms in Ostrava, Tsjeggië, verpletter.

Wayde het dié wedloop in slegs 30.81 sekondes voltooi en sodoende die rekord van 30.85 sekondes kafgedraf wat Michael in Maart 2000 in Pretoria behaal het.

I serve a powerful God. ???? Much love all

A post shared by Wayde van Niekerk (@waydedreamer) on

Aleck Skhosana, president van Atletiek Suid-Afrika, het vir Wayde en sy afrigter, Ans Botha, gelukgewens met die prestasie.

Dit kom nadat hy op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro Michael se 400 m-wêreldrekord met ’n tyd van 43.03 sekondes laat sneuwel het.

Woensdag het Wayde sy vorige beste tyd van 31.03 sekondes in die 300 m en ook die Amerikaanse veteraan-atleet Usain Bolt (30) se beste tyd van 30.97 sekondes in dié nommer by dieselfde byeenkoms in 2013 verbeter.

Wayde is nou die enigste mens in die geskiedenis wat die 100 m in onder 10 sekondes, die 200 m in onder 20 sekondes, die 300 m in onder 31 sekondes en 400 m in onder 44 sekondes kon aflê.

Die jong Suid-Afrikaner Clarence Munyai (19) het aan dieselfde wedloop deelgeneem en was derde met ’n tyd van 31.61 sekondes, berig die koerant. Hoewel hy saam met die seniors deelgeneem het, is dit luidens berigte die wêreld se beste junior tyd tot nog toe.

Die voormalige Afrika-kampioen in die 400 m, Isaac Makwala van Botswana, het tweede gekom met 'n tyd van 31.44 sekondes.

Rikenette Steenkamp het 'n persoonlike beste tyd behaal met 'n tyd van 12.99 sekondes in die 100 m-hekkies vir vroue. Pamela Dutkiewicz van Duitsland het haar naelskraap geklop met 'n tyd van 12.72.

Rikenette het geskiedenis gemaak deur slegs die tweede Suid-Afrikaanse vrou te word wat hierdie item in minder as 13 sekondes afgelê het. Corien Botha het op 10 Julie 1998 in Spanje die item in 12.94 sekondes voltooi.

Bykomende bron: news24.com