Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het Maandag gesê 'n Suid-Afrikaanse aktrise is op die OR Tambo- Internasionale lughawe gevang toe sy vermoedelik probeer het om dwelms met 'n geraamde waarde van R4,6m die land in te smokkel.

Volgens Luther Lebelo, woordvoerder van SAID, is 15,4 kg effedrien Sondag in die vrou se sak gevind. Sy het van Abu Dhabi af gevlieg.

Effedrien word gebruik by die vervaardiging van kristalmetamfetamien, of tik.

"Die passasier, wat deur die “Niks-om-te-Verklaarkanaal/groen kanaal beweeg het, is deur die doeanebeamptes voorgekeer sodat haar sakke geskandeer kon word,” het Lebelo gesê.

In een van haar sakke was “verdagte beelde”.

"By nadere ondersoek en nadat die sakke deursoek is, het die amptenare afgekom op 15 pakkies, toegedraai in foelie-agtige materiaal en in die bagasie versteek. Amptenare van SAID het onmiddellik toetse uitgevoer wat bevestig het dat die verdagte middel effedrien was.

"Die passassier, geïdentifiseer as 'n Suid-Afrikaanse aktrise, is aangehou en is daarna, met dwelms en al, aan die Suid-Afrikaanse polisie se tak vir georganiseerde misdaad oorhandig sodat die saak verder ondersoek kan word.

"Volgens die Suid-Afrikaanse wet mag die besonderhede van die passasier eers bekendgemaak word nadat sy in die hof verskyn het,” het Lebelo gesê.

Die aktrise verskyn na verwagting Dinsdag in Kempton Park se landdroshof.

Bron: News24