Suid-Afrika het die agtste hoogste selfdoodkoers ter wêreld, het die Suid-Afrikaanse Federasie vir Geestesgesondheid Woensdag gesê.

Die woordvoerder Fatima Seedat het gesê in die land probeer sowat 8 000 mense per jaar hul lewe neem. Wêreldwyd is dié getal sowat 1 miljoen.

“Gegrond hierop is selfdood die derde grootste oorsaak van onnatuurlike dood in die land,” het Fatima in ’n verklaring gesê.

Daagliks probeer sowat 230 mense hul lewe neem, terwyl 23 daarin slaag.

Fatima se verklaring volg nadat die wêreld selfdoodvoorkomingsdag herdenkhet.

“Ter herdenking van hierdie dag is dit van kardinale belang om die boodskap te versprei dat selfdood voorkombaar is en dat daar hulp beskikbaar is vir mense wat ondersteuning nodig het,” het sy gesê.

Navorsing toon dat psigososiale faktore soos onbehandelde geestesongesteldheid, dwelmmisbruik, familie probleme, trauma, verkragting en armoede tot selfdoodgedagtes kan bydra.

Volgens studies het tot 70 persent van mense wat hul lewe geneem het, waarskuwingstekens getoon.

“Van die tekens is: dink of praat gereeld van die dood, kliniese depressie, verlies van belangstelling in dinge waarin hulle eers belanggestel het, hul sake in orde sit, ’n skielike verandering in gedrag, onverwagte verandering van baie hartseer na baie kalm of gelukkig, besoek of bel mense om totsiens te sê en besittings weggee,” het Fatima gesê.

Mense wat tekens van depressie toon, moet daaraan herinner word dat daar hulp beskikbaar is.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het bevind dat ten spyte van die hoë wêreldwye selfdoodkoers is hulp vir mense met selfdoodgedagtes nie in die openbare gesondheidstelsel geprioriseer nie.