Elsje Neethling kuier die afgelope weke in die Kaap en sy hoop om binnekort permanent daar te woon. As nog mense haar vir motiveringspraatjies nader, wil sy graag permanent daar gaan woon. 

Daar is nog goeie nuus – teen Vrydagmiddag het Fanie du Toit, ’n RSG-omroeper, en Elsje reeds gesels en was een of twee onderhoude met haar op Fanie se program, Leefwêreld van die Gestremde, reeds vasgemaak. 

"Ek wil een of twee onderhoude met haar voer," het Fanie laat hoor. "Ek sê nou vir Elsje daar is lewe na gestremdheid."

“Ek het gekom vir ’n praatjie en besluit om nog te kuier,” vertel Ryk Neethling se mooi sussie op haar beurt vanuit die Moederstad. Sy het op 22 Junie ’n praatjie op RSG gelewer oor die kralewerk wat sy doen, Hip*E Beads (uitgespreek hippie).

Fanie en Elsje gesels ook oor 'n krale-projek wat hulle saam wil aanpak.

Elsje het aangedui die minister van maatskaplike ontwikkeling in Kaapstad se kantoor het haar ook Vrydag gebel.

Sy het op 14 Junie haar eerste Facebook-inskrywing oor haar belewenis in die Kaap gedeel en daarna het talle ander gevolg.

Sy het Donderdag heelwat foto’s op haar Facebook-blad gedeel van kuns by ’n kunsuitstalling in Breëstraat.

Daarna was sy drie weke in die Paarl by Rykie, soos sy haar broer noem. Nou bly sy oor in Sahar Biniaz, Ryk se verloofde, se woonstel aan Groentemarkplein.

Aggressiewe breinkanker, wat die eerste keer op die ouderdom van 13 by Elsje gediagnoseer is, kry haar nie onder nie. Die kanker was ses jaar later in remissie, maar het jare later weer toegeslaan en was daarna weer in remissie.

Sy was 14 jaar oud toe sy die laaste keer op Groentemarkplein was toe haar ma haar daarheen geneem het. Die gebied, vol keistene, is glad nie vir haar ’n probleem nie. Dié ekstrovert vertel wanneer sy by die keistene kom, tel mense haar in haar rolstoel op en dra haar oor.

By ’n foto wat sy vanuit die woonstel van Groentemarkplein geneem het, skryf Elsje: “Wat ’n wonderlike uitsig op Groentemarkplein, Kaapstad! Ek voel geseën om hier in die hartjie van die Moederstad te bly.”

By ’n lawwe foto tussen kunswerke waar Elsje met blomme om haar kop haar tong uitsteek, skerts die sangeres Amanda Strydom: “Mens kan jou ook nêrens heen vat nie . . .” Elsje antwoord: “Heeheeheee ek leeewe!!!”

By ’n aandfoto met mense en motors daarop skryf sy: “Die Kaap is soos . . . Suid-Afrika sonder issues.”

“Ek woon lekker in Bloem, maar ek wou nog altyd hier gewoon het,” sê sy.