FOTO: Getty Images/Gallo  Ryan Seacrest en die Sports Illustrated-model Dominique Piek is ’n paartjie. Die American Idol-aanbieder, wat in April ná drie jaar met die aktrise Julianne Hough (24) uitgemaak het, gaan nou glo uit met die Suid-Afrikaanse skoonheid uit. Sy en die Star Trek-akteur Chris Pine (32) het in April hul verhouding van ’n jaar verbreek. “Dominique en Ryan het onlangs twee keer in een week gaan uiteet,” het ’n bron aan die tydskrif In Touch gesê. Die bron het bygevoeg hoewel die twee nog mekaar leer ken, kom Ryan (38) en die brunet (27) “baie goed oor die weg”. Ryan het onlangs vir vriende gesê hy is “dol daaroor” om weer enkellopend te wees, maar is vroeër vandeesmaand gewaar toe hy saam met ’n pragtige blondine in ’n klub in Los Angeles was.  Ryan en Julianne, van Footloose-faam, se paadjies het glo geskei omdat hy nie wou trou nie. Julianne, ook ’n beroepsdanseres, was moeg gewag vir ’n verloofring en het toe haar tassies gepak. “Hy wou nie die groot vraag vra nie,” het ’n bron vantevore gesê. “Maar Ryan was op die punt om na ringe te begin soek. Julianne is die enigste meisie oor wie hy nog ernstig was.”

Koop die jongste mode en bykomstighede in ons aanlyn-winkel. Dis veilig en maklik.