Die Deadpool-akteur en sy vrou, Blake Lively, het hul dogter, James, Desember verlede jaar in die wêreld verwelkom. Die egpaar het besluit om hul kind uit die kollig te hou en het nie eens haar naam bekend gemaak nie - tot dit uitgelek is.

Hulle het nog nie volledige foto’s van haar gewys nie, wat dit nog ontstellender gemaak het toe Ryan uitvind iemand na aan hom probeer privaat foto’s verkoop.

Hy het aan gq.com gesê: “Iemand saam met wie ek grootgeword het, ja. Iemand wat ek geken het, wat 25 jaar lank een van my beste vriende was.

“Dit was soos ’n sterfte. Dit was een van daardie verpletterende goed om uit te vind. (Ons het ’n) taamlik sterk bewoorde gesprek gehad. (Hy het dit net) vir geld gedoen. Ek bedoel, ek dink nie hy het gedink hy sal ooit gevang word nie. Maar dis ’n baie klein groepie mense vir wie ek sulke foto’s sou stuur. Hulle is net my naaste familie en beste vriende: ‘Hier is ons in die kraamsaal!’ ”

Ryan is nog geskok oor wat gebeur het en het die mens nou uit sy lewe gesny.

Dit maak hom hartseer dat hy sulke drastiese stappe moes neem, maar hy het geen ander uitweg gesien nie.

Om pa te word was een van die beste ervarings van die ster se lewe, al doen hy sy bes om nie gedurig daaroor te praat nie. Een van die goed wat hom verstom het, is dat pa-wees hom baie oor homself geleer het.

“Ek’s verbaas oor hoe geduldig ek daarmee is. Ek voel ek kan soms kort van draad wees, maar daar’s hierdie vreemd eindelose voorraad van geduld,” het hy in verwondering gesê. “Ek het geen probleem om vyf keer in die nag op te staan en doeke om te ruil nie. En so moeg soos ’n mens word, het ek heeltyd ’n simpel glimlag op my gesig. En dis nie omdat ek ’n oppasser het of so iets nie. Dis nou net ons en ek is dol daaroor.”

© Cover Media