Aanhangers wêreldwyd kan maar die sneesdoekies uithaal, want die hartebreker Ryan Gosling se meisie, Eva Mendes, verwag.

Volgens OK Magazine is Eva, met wie die 33-jarige Ryan sedert 2011 in ’n verhouding is, sewe maande swanger. ’n Bron na aan Eva sê sy is al geruime tyd gereed vir moederskap.

Die 40-jarige Mendes en Ryan het begin uitgaan nadat hulle saam in die rolprent Place behind the Pines gespeel het.

Die Sydney Morning Herald berig mense het vroeër vanjaar reeds vermoed Eva is swanger nadat sy geweier het om op ’n lughawe deur ’n skandeermasjien te loop.

Eva en Ryan moet nog amptelike kommentaar op die nuus lewer.

Die bron wat met OK Magazine gepraat het, sê Ryan is vasbeslote om ’n betrokke en goeie pa te wees, juis omdat hy self daarsonder moes grootword.

Die internet was onmiddellik aan die gons nadat die nuus bekendgemaak is.

’n Gosling-aanhanger wou op Twitter weet: “Mag ek môre af vat by die werk? Ek het ’n dag nodig om my gevoelens te verwerk.” Terwyl ’n ander getwiet het: “Ryan Gosling en Eva Mendes gaan ’n baba hê. Die geluid wat jy pas gehoor het, is vroue wêreldwyd wat onbedaarlik huil.”

Noudat Eva ’n baba verwag, gaan trouklokkies dalk binnekort gehoor word.

Maar Ryan meen nie hy en Eva hoef noodwendig nou te trou nie.

“Ryan dink nie hulle moet trou net omdat hulle ’n baba verwag nie, maar Eva glo dis belangrik dat hulle twee so verbind word,” sê die bron.

Wie weet, dalk gaan bewonderaars binnekort ’n tweede keer moet trane afvee wanneer Eva en Ryan voor die kansel staan.

Bronne: OK Magazine, Sydney Morning Herald, Daily Mail, Twitter.