Dit was die vliegtuig se tweede vlug van die dag om water op die vlamme te gooi. Kontak met die vliegtuig, ’n II-76, is verloor teen ’n hoogte van 3 000 m in ’n gebied waar digte rook sig aansienlik belemmer het. Die nuusagentskap Interfax het sigbaarheid as feitlik nul bestempel. Luidens berigte was die vliegtuig tegnies in ’n goeie toestand.

Agt vliegtuie word nou ingespan om na die vliegtuig te soek weens die grootte van die gebied en die ontoeganklikheid daarvan vir voertuie. Geen paaie bestaan in die omgewing nie.

Ongeveer 100 valskermspringers sal na bewering in die gebied ontplooi word om met die soektog te help.

Rusland word jaarliks deur reuse-bosbrande geteister. In hierdie stadium is sowat 3 300 brandbestryders besig om brande in ’n gebied van sowat 39 000 ha te bestry.

So lyk die II-76 in aksie. Dit is die grootste brandbestrydingsvliegtuig ter wêreld. Dit word ook die “waterbomdraer” genoem en kan tot 42 ton water per keer afgooi.

Bronne: rt.com, japantimes.co.jp, tass.ru, dailystar.com