Navorsing van Virginia Tech Transportation toon moegheid veroorsaak ’n vyfde van motorongelukke. Voorheen is geskat dis die oorsaak van net 2 tot 3 persent.

Die navorsers het gelet op ooglede wat toegaan, koppe wat knik en mikroslaap (wanneer die oë toegaan en vinnig weer oopspring).

Die studie het getoon bestuurders tussen 18 en 20 is betrokke by die meeste ongelukke wat met moegheid verband hou. Ouer bestuurders kan ook swig voor moegheid op pad weens laat gaan slaap en vroeg opstaan.

Volgens die studie kan amper twee derdes van vragmotorongelukke veroorsaak word deur uitgeputte bestuurders.

Tydens die feestyd van 2012 uitgeputte bestuurders uitgeken as een van die grootste oorsake van padongelukke. Dit het aanleiding gegee tot die Wes-Kaapse verkeersowerheid se bestuursprogram vir moegheid. Hiervolgens kon verkeersbeamptes motoriste aftrek en dwing om te rus as hulle moeg lyk.

Hoewel moegheid gewoonlik vereenselwig word met langafstandbestuur, kan ’n lang dag by die werk of ’n laat nag uit ook uitputting veroorsaak.  Nog oorsake is emosionele spanning, siekte, verveling en skerp son.

Motoriste word aangeraai om minstens sewe uur te slaap voor hulle in die lang pad val. Moet ook nie bestuur wanneer jou liggaam natuurlik afskakel nie; vir die meeste mense is dit tussen tweeuur en sesuur soggens.

Voorkom moegheid op die pad:

  • Kry ten minstens sewe uur goeie slaap voor jy jou rit aanpak.
  • Dra ’n donkerbril van goeie kwaliteit.
  • Eet ’n behoorlike maaltyd voor jy vertrek, iets voedsaams en energiegewends.
  • As jy ’n lang afstand ry, beplan om elke uur 20 minute te rus. Daar is oorgenoeg motorhawens langs grootpaaie waar jy kan stilhou en ’n blaaskansie neem.
  • Stap ’n entjie tydens jou rustyd.
  • Neem genoeg vloeistowwe tydens jou rit in.
  • Laat ’n ander verantwoordelike bestuurder jou af en toe aflos.
  • Probeer nie bestuur terwyl jy normaalweg sou slaap nie.
  • Moenie alkohol gebruik voor of tydens jou rit nie.

Moenie hardkoppig wakker en behoedsaam probeer bly nie. Wanneer jy moeg is, hoort nie jy agter ’n stuurwiel nie.

Deur Faiza Mallick

Bron: Budget Insurance