Binne minute drom nuuskieriges voor die boer se plaashek saam. ’n Buitelandse TV-nuusspan, ’n fotograaf, ’n joernalis en gewapende polisiebeamptes is daar – gereed vir aksie.

Op die plaas buite Ventersdorp is dit ’n hele bedrywigheid. ’n Ruimteskip het sowaar geland – hier staan hy lewensgroot voor almal se oë . . .

Die groepie nuuskieriges staan eers op ’n veilige afstand en betrag die ding. Wanneer een ’n moedige tree nader gee, kom ’n onaardse geluid en rook-wolke uit die gedoente.

Die polisiebeamptes is paraat en ’n boervrou pluk haar knipmes uit. Die kinders staan gereed: Hier kom vandag nog ruimtewesens uit dié ding. ‘‘En juffrou sê ruimtemannetjies bestaan nie – vandag gaan ek een sien!’’ sê ’n meisietjie opgewonde.

Die oomblik toe die dapper boervrou nader stap, kom daar lewe. Die deur van die ruimteskip slaan op en te midde van skrikwekkende geluide en rookbolle stap ’n spektakel met groen hare in ’n silwer jas uit. En dis net hier waar die boervrou besluit genoeg is genoeg: ’n Vrou moet darem haar kinders en die nasie beskerm . . .

Vir wat toe gebeur het, moet ons maar fliek toe gaan, want die rolprentvervaardiger André Scholtz verklap geen woord verder van hoe dié poets in sy nuutste fliek waarin hy onskuldige mense met sy steelkamera uitoorlê, toe afgeloop het nie.

Hy kry net sulke fyn lagplooitjies om sy oë wanneer hy die gedoente weer voor sy geestesoog sien afspeel. ‘‘Dit is seker my gunsteling-toneel,’’ vertel die man wat as geoktrooieerde rekenmeester opgelei is. André het voorwaar niemand en niks in Rainbow Skellums ontsien nie. Die gewilde sanger en aanbieder van die musiekprogram Jukebox, Kurt Darren, en die oud-Vrystaat-rugbyspeler Braam Els is van die onskuldiges wat hy met ’n slap riem gevang het.

Sy liefde vir flieks is toentertyd al gebore, in ’n klein teatertjie in Koffiefontein in die Vrystaat waar hy grootgeword het.

Foto’s en volledige artikel in Huisgenoot van 24 Desember.

Bespreek vir Skouspel!