Drie lede van ’n gesin is Vrydag in ’n gesogte Durbanse woonbuurt beseer toe ’n ruiker van blomme met ’n ploftoestel daarin ontplof het.  

Ironies genoeg is ’n word-gesond-kaartjie saam met die ruiker afgelewer, aldus die Vereniging vir die Beskerming van die Grondwet ( Society for the Protection of the Constitution).

Die houer is deur ’n koerierdiens by Salim Khan se huis in Stephen Dlamini-straat afgelewer.  

Mohamed Zakaria (22), sy seun, het die houer oopgemaak: “ ’n Tamaai ontploffing het gevolg.”

Zakaria het kritieke beserings opgedoen en moes dieselfde aand ’n breinoperasie ondergaan. Sy vrou, Maseeha (20), en ma, Sara-bibi (70), is ook albei ernstig beseer.

Volgens Nawshaadh Khan, woordvoerder vir die gesin, het Sara-bibi ’n gebreekte been en snyplekke opgedoen. Maseeha het snyplekke opgedoen en Zakaria het sy duim en twee vingers verloor.

Luidens berigte is twee van die Khan-gesin se voertuie ’n paar maande gelede aan die brand gesteek.  

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder vir die Valke, het Maandag aan News24 gesê “die saak geniet aandag”, maar wou nie verder kommentaar lewer nie.

Bomdeskundiges het Vrydagmiddag ’n tweede toestel in ’n beheerde ontploffing buite aksie gestel.

’n Burgerregteorganisasie het Sondag in ’n verklaring aangedui dat die gesin se beserings spruit uit ’n daad van terreur. Die Khans se sitkamer, sowat 10 m weg van die ontploffing, is ook geheel en al vernietig, het die verklaring voorts gelees.

Bronne: iol.co.za, news24.com