Danielle McLaughlin (28) was ’n vriendelike jong Ierse vrou van Liverpool, Engeland, wat gek was oor reis. Min het sy geweet haar rugsakreis in Februarie vanjaar na die Indiese staat Goa sou haar laaste wees.

Donderdag is ’n video geplaas wat heel waarskynlik geneem is kort voor haar verkragting en moord.

Haar naakte lyk is Dinsdag in ’n plas bloed op ’n afgesonderde plek naby die Deobagh-strand in Canacona, Suid-Goa, gevind. Daar was beserings aan haar kop en gesig en daar word vermoed dat haar aanvaller haar gesig met ’n bierbottel vermink het om haar identiteit te verbloem.
’n Plaaslike inwoner, Vikat Bhagat (23), wat voorheen van diefstal en inbraak aangekla is, is intussen in hegtenis geneem. Daar was bloedspatsels op sy klere en bromponie.

Vikat en Danielle is luidens gerugte Maandagmiddag en -aand saam gesien. Hulle het mekaar glo reeds ’n jaar gelede ontmoet tydens haar vorige besoek aan die streek. Hy het glo erken dat hy haar verkrag en vermoor het. Dit lyk asof hy intussen ook probeer om ander mense by die wrede daad te betrek.

Vikat is deur ’n werknemer by die Dreamcatcher-oord, waar Danielle glo die Maandag sou wees, beskryf as die “grootste dief in die omgewing”.

“Hy steel net van buitelanders – breek by hul kamer in en steel alles. Hy skrik buitestaanders af wat hul besigheid hier wou begin.

“Hy is ’n magtige mens, en met magtig bedoel ek hy span ’n wapen in om mense af te skrik. Hy’s ’n laspos vir die gemeenskap.”

Daniella se moord is ongelukkig nie ’n uitsondering op die reël in Goa nie. In 2016 het ’n Indiese hof twee mans, Placido Carvalho (48) en Samson D’Souza (37), vrygespreek op aanklag van die verkragting van en moord op Scarlett Keeling (15). Haar lyk is in 2008 op die Anjuna-strand gevind.

Mediese getuienis het daarop gedui dat Scarlett gruwelik aangerand, verkrag en vermoor is nadat iemand haar alkohol en dwelms gevoer het.