Arme Ron Rutland.

Hierdie geesdriftige Suid-Afrikaanse rugbyondersteuner het die laaste twee jaar oor Afrika en deur Europa met sy fiets gery om sy geliefde Springbokspan in die Rugbywêreldbeker te ondersteun. Net vir hulle om in een van die skokkendste nederlae in rugbygeskiedenis teen Japan te verloor.

Dié voormalige bankier het sy sake so uitgewerk dat hy net mooi in Brittanje sou aankom betyds vir die Bokke se wedstryd teen Japan. Dit is nou ná hy ’n afstand van byna 43 000 km afgelê het.

Ten spyte van die feit dat hy doodmoeg was, het Ron steeds sy plek hoopvol en vol afwagting op die pawiljoen in Brighton ingeneem. Net om te sien hoe sy span 34-32 teen Japan in die stof byt. Die 41-jarige het in April 2013 sy huis in Kaapstad verlaat op sy tweejaar avontuur op sy fiets deur Afrika en Europa. “Ek het dit nie verwag nie. Dit was die grootste skok in rugbygeskiedenis. Dit het vir my gevoel of ’n fliek voor my afspeel. Ek kon nie glo wat ek sien nie,” het hy gesê. Nietemin bly Ron positief oor die Bokke se kanse verder. Heimlik is hy ook bly vir die Japanese span en hul ondersteuners. “Toe ek die Japanese-aanhangers in trane sien, het ek besef hoe baie dit vir hulle beteken.”

Op sy fietstoer deur Afrika het Ron geld ingesamel vir die Laureus-stigting wat behoeftiges deur sport bystaan. Hy het in elke land in Afrika – behalwe vier – aangegaan.

Ron beplan nou om terug op sy fiets te klim en na al die Springbokke se volgende wedstryde te ry.

“Ek dink wel ek sal huis toe vlieg,” het hy spottenderwys bygevoeg.

Bronne: Telegraph.co.uk; EWN