Sê die naam en vroue van oor die hele wêreld sal sug. Dan Carter. Ja, selfs dié wat nie die verskil tussen ’n losgemaal en ’n losskrum ken nie, weet wie hy is – en party sal nogal moeite doen om na ’n wedstryd te kyk waarin die Kiwi-losskakel speel.

Hulle sê selfs aan die einde van ’n wedstryd, wanneer die sweet en soms bloed hom aftap, lyk hy goed. En nou is hy hier, in die Gateway-winkelsentrum in Umhlanga naby Durban, waar hy handtekeninge uitdeel en vir foto’s poseer. Daar wag baie mans in die tou om die 28-jarige All Black- en Crusaders-ster te ontmoet–mans en seuns gee vir hom rugbytruie en balle om op te teken, poseer vir foto’s saam met hom en loop dan.

Maar die vroue in die tou – en daar is baie – talm, stap droomverlore na die tafel en slurp sy aandag op.

Een jong vrou sit ’n hele hoop Jockey-ondergoedjies voor hom neer en vra sy handtekening daarop.

Dan gryp ’n pen en klets met die giggelende meisie terwyl sy in sy oë staar.

Dié adonis van internasionale rugby weet hoe om praatjies te maak. Hy is ontspanne, sjarmant en vriendelik. Dis

dan nogal verrassend dat hy eintlik ’n bietjie skaam blyk te wees toe hy ’n blaaskansie neem en ons

hom gou vir ’n geselsie nader trek.

En hy sê dadelik: Hy is tog nie heeltemal gemaklik met al die vroue-aandag nie. ‘‘Ek wil nie as ’n sekssimbool beskou word nie,’’ hou hy vol. ‘‘Ek is ’n rugbyman en nou ’n sakeman, hoewel rugby dit vir my moontlik gemaak het om ook ander goed te wees, soos ’n woordvoerder vir Jockey.’’

Die Jockey-joppie is ’n taamlik nuwe een en hy erken dit het hom ’n ruk geneem om gewoond te raak aan foto’s van homself in net ’n onderbroek op 18 m hoë advertensieborde regoor Nieu-

Seeland.

Teken in op Huisgenoot