Hy leer meer oor die ekonomie by Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep en ’n TV-aanbieder.

Dawie het gister op sy Facebook-blad ’n foto van hom en Victor geplaas en daarby geskryf: “Het julle al ooit gewonder wat Victor Matfield doen as hy nie rugby speel nie . . . wel, hy leer van die ekonomie by my.”

Victor het verlede week opleiding by Dawie gekry en meer geleer oor die monetêre beleid, die Reserwebank, ekonomiese denkrigtings en denkskole.

“Hy was ’n baie goeie student,” het Dawie bygevoeg.

Victor het ook sommer in ’n video van die Efficient-groep op YouTube verskyn waarin hy met Heiko Weidhase, hoof uitvoerende beampte van die groep praat. In dié video vertel Heiko Victor meer van die ekonomie en hoekom dit belangrik is.

Intussen wag Victor om te hoor of hy die Springbokke op 7 Junie gaan lei in hul wedstryd teen die Samsung-wêreldspan in Kaapstad. Victor is een van die kandidate vir die kapteinskap. Die ander moontlikheid vir kaptein is Bismarck du Plessis.

- Hilda Fourie