UIT die skaduwees kom Rudi Claase op die verhoog gestap. Soos altyd steek hy sy hand uit na sy sangmaat, Corlea Botha. En soos met elke optrede neem die ander helfte van die duo wat as Ons Lieflinge bekend geword het sy hand sag en teer in hare.

Hulle staar diep in mekaar se oë, terg mekaar en flankeer met mekaar. Die glimlagge is daar en die liefde tussen hulle voel tasbaar op die verhoog, soos dit ’n sangpaar betaam wat die afgelope twee jaar die goue golf van sukses gery het met verkope van meer as 210 000 CD’s en DVD’s.

Maar toe die twee ná hul onlangse optrede by die Silverstar-casino in Johannesburg van die verhoog stap, was die spanning tussen die twee vriende van die afgelope 13 jaar ewe tasbaar.

Dae voor die vertoning het Corlea (23) ’n bom laat bars wat Rudi (27) se wêreld geskud het: Sy wou haar platekontrak met Jewel Music waarin Rudi ’n vennoot is, onmiddellik beëindig. Sy wou ook alle optredes kanselleer en geen nuwe optredes tot die einde van die jaar reël nie. Corlea wil alle bande met die Lieflinge verbreek. En dit sonder om enige rede te verstrek.

Rudi se blou oë is vandag grys. Sy gemoed is troebel hier waar hy by sy huis op die Mooikloof-landgoed in Pretoria met ons gesels. Die afgelope drie weke ontvang die talentvolle liedjieskrywer en skepper agter die konsep van die Lieflinge weer psigiatriese behandeling. Hy het ook weer sy medikasie vir bipolêre gemoedsteurnis begin gebruik nadat hy in ’n donker gat van depressie begin wegsink het.

Gerugte van onmin tussen Rudi en Corlea het begin kop uitsteek kort nadat hulle ’n optrede by die Afri-Klassiek-musiekfees by die GrandWest-casino in die Kaap gekanselleer het, want Rudi het weens sy gemoedsteurnis nie kans gesien om daar te sing nie.

Sy ontsteltenis oor Corlea se skielike ommeswaai het hom so siek gemaak, vertel Rudi nou. En sedertdien het dinge net verder versleg.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 24 Februarie waar Rudi meer vertel oor hierdie drama. 

Kyk hierdie video van Rudi en Corlea by Skouspel 2010: