DIE jaar 2010 was nou nie een wat Rudi Claasse onder die bestes in sy 27 jaar sou tel nie.

By tye het dinge nogal rof geraak vir dié helfte van die sangpaar Ons Lieflinge. Eers was daar opslae oor sy huwelik met sy bestuurder ná ’n warrelwind-romanse. Toe gerugte dat die hele herrie hom tot op die rand van ’n ineenstorting gedryf het. Rudi sukkel juis al jare met bipolêre gemoedstoornis.

En nou is dit 2011, maar weer eens pak onweerswolke om die begaafde liedjieskrywer en sanger saam. Dié keer is dit oor ’n regsgeskil met sy voormalige platemaatskappy, Fantasia Musiek, wat dreig om in ’n uitgerekte hofstryd te ontaard.

Maar die jong sanger wat vandag voor ons sit, lyk allermins soos iemand wat deur stormwaters vaar. Hy is rustiger en gelukkiger as ooit tevore in sy lewe. En vir die eerste keer sedert hy onder groot geheimhouding met Stephen Stewart (28) getroud is, is Rudi gereed om te praat oor die afgelope jaar se gebeure en wat alles deur sy gemoed gegaan het.

“Die grootste misverstand is die gerugte dat ek in ’n toestand was toe die nuus van my troue uitgelek het,” vertel hy.

’n Fyn goue troupand blink aan sy ringvinger. Hy dra dit met dieselfde trots as waarmee hy vandag oor sy huwelik praat.

Rudi en Stephen is verlede Februarie getroud, maar het die nuus maande lank geheim gehou, totdat dit in September uitgelek het.

“Ek het dit nie geheim gehou omdat ek skaam is daaroor nie, glad nie! Maar ek verwag nie van almal om sekere keuses wat ek maak, te aanvaar of te verstaan nie,” sê hy nou.

Mense het nog altyd net dié Rudi geken wat saam met Corlea Botha kits-gewildheid met hul stemme verwerf het. Maar min mense ken die Rudi weg van die verhoog af.

Vandag maak hy die vensters van sy lewe op ’n skrefie oop en wys vir sy aanhangers wie daardie man is.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 6 Januarie 2011