Rudi Claase en Corlea Botha loer na mekaar, kyk albei dadelik af wanneer hul oë mekaar vang en probeer met alle mag om nie uit te bars van die lag nie. Dís die “kode”, hul geheime teken wanneer ’n oorgretige aanhanger in die omtrek is, verduidelik hulle.

Die twee het dit ontwikkel een laatnag in ’n Steers-wegneemete-restaurant op die N1, op pad huis toe in Pretoria ná ’n vertoning op die platteland.

“Jy kan sommer sien wanneer iemand ’n bohaai gaan maak,” onthou Rudi daardie aand. “Jy loop iewers in sonder die formele klere waarin ons gewoonlik op die verhoog verskyn, dan rek iemand se oë en hulle los sommer dit waarmee hulle besig was. Maar hulle is duidelik verward – is dit ons? Is dit nie?”

Dié aand loop ’n lid van hul toergroep toe boonop met ’n Rudi & Corlea-T-hemp aan en toe bars daar ’n chaos in Steers los.

"‘Dit ís hulle!’ skree iemand en dis ’n stormloop van aanhangers en ‘boetie, bel vir Rentia!’ ” vertel Rudi (27) laggend. “Kyk, ons hou natuurlik van ons aanhangers en ons groet hulle graag, maar diep binne is ons regte huishoenders,” verduidelik Corlea (23).

“Ons was albei eenkant-kinders – daai kinders wat te kunssinnig is en eerder pouse by die juffrou kuier. Al die aandag is dus vir ons vreemd.”

Roem het hulle beslis soos ’n warrelwind getref. Hul eerste album, Ons Lieflinge/Our Darlings, het in Augustus 2009 die lig gesien en binne net vier weke goue status behaal.

“Daarna was die aanvraag so groot dat ons in April vanjaar Drome, ons tweede album, uitgereik het,” vertel Rudi, wat die meeste van hul musiek skryf.

Drome is juis vanjaar by die Huisgenoot-Tempo-toekennings as die beste kontemporêre album bekroon, en die sangpaar as gewildste nuwelinge. Intussen het hulle ook ’n DVD, In Konsert, op die rak. En die verkope woel. Ons Lieflinge/Our Darlings en Drome is al by dubbelplatinum verby, en die DVD is reeds goud. Daar is duidelik g’n blaaskans nie.

“Ons wag nou nog vir ’n gaping om daardie eerste goue status ’n jaar en ’n half gelede te vier,” sê Rudi. En asof hulle nie meer as genoeg het om te doen nie, het Rudi boonop in Oktober verlede jaar ’n platemaatskappy, Jewel Music, saam met twee vennote gestig. Dis die naam waaronder sy en Corlea se loopbane bestuur word, en die legendariese Min Shaw het pas by hulle geteken.

Rudi skryf tans vir Min ’n album. “Sy het nog so baie om te gee. Sy’s in haar 70’s, maar absoluut statig en so ’n wonderlike, gelukkige mens. Ek’s baie opgewonde om saam met haar te kan werk,” sê Rudi.

Groot stemme soos Min is terug in die mode, meen hy en Corlea. “Daar is beslis ’n gaping in die Afrikaanse mark. Popmusiek en sokkiemusiek is daar baie,” sê Rudi.

En hulle het sommer geweet dinge sal uitwerk saam met Min toe sy eendag by ’n optrede aankom en presies soos hulle aangetrek was. “Sulke helderpienk en swart uitrustings – nie iets wat ’n mens sommer toevallig sal aantrek nie!” vertel Rudi.

Rudi en Corlea se vriendskap het 13 jaar gelede begin toe die twee sterre mekaar ontmoet het by die Reik na die Sterresangkompetisie in 1997 – Corlea was 10 jaar oud en Rudi 14.

“Dis vreemd dat ons toe al, met so ’n groot ouderdomsgaping, maats geword het, maar ek dink ons het mekaar se talent dadelik waardeer,” sê Rudi.

“Ek kon nie glo dié klein dogtertjie met die skuimpierokkie kon so mooi sing nie. En sy was baie volwasse. Al die ander kinders het rondgehardloop en sy het net stilletjies op haar beurt gewag, die gehoor weggeblaas en weer rustig van die verhoog afgestap.”

“Ag ja, ek wens mense kon hóm toe sien!” onderbreek Corlea hom dan. “Hy’t sulke wilde hare en ’n onderbaadjie gedra en Celine Dion gesing soos geen meisie kon nie – elke noot perfek.”

Hulle het deur die jare kontak behou en was ’n lekker klankbord vir mekaar se loopbaan. Dis juis hoe die sangpaar Rudi & Corlea gebore is – Corlea wou eintlik Rudi se hulp inspan.

“Ek het een aand na Rudi toe gekom vir raad. Hy was toe reeds bekend as ’n skrywer en het al vir mense soos Juanita du PlessisTheuns Jordaan en Patricia Lewis musiek geskryf. Ek wou hoor of hy dalk vir my ook ’n paar liedjies sou skryf.”

In daardie stadium het sy al twee albums agter haar naam gehad – een gospel-album, Wonderkind van die Millennium, en een afro-jazz-album, Shades of the Rainbow, wat sy op die skrale ouderdom van 15 saam met legendes soos Hugh Masekela opgeneem het en waarvoor die popgroep Jamalihaar agtergrondsangers was.

Rudi het toe ook al twee albums op die rak gehad, Talita en Jambo – Jambo is in 2008 benoem vir ’n Sama-toekenning in die kategorie sokkiedansalbum van die jaar.

“Ná my jazz-album was ek nie seker watter rigting ek wou inslaan nie en wou ek Rudi se raad hê. Ons het pizza gekry, op sy mat gesit en eet met ’n bottel rooiwyn tussen ons, en net heerlik gelag.

“Toe lyk dit skielik of daar ’n gloeilampie bo Rudi se kop aangaan. ‘Wat as . . . ?’ het hy gevra en opgewonde liedjies begin neerskryf. Ons het daar en dan die hele konsep uitgewerk – van die kostuums tot die liedjies wat op ons eerste album sou verskyn. Rudi is ’n groot denker – niks word op klein skaal gedoen nie!” vertel Corlea.

“As jy jou loopbaan bou op die rug van talent, sal dit ’n sukses wees,” sê Rudi. “Ons het wel die dramatiese klere, die grimering, groot hare en druppende juwele, maar Corlea se talent is wat alles inspireer,” sê hy.

Waarop Corlea vinnig terugkap: “Ag asseblief, het jy jouself al hóór sing, Rudi? En dis so maklik om liedjies te sing wat so mooi geskryf is!”

En so gaan dit by hul optredes ook – ’n aanhoudende heen-en-weer-gesels en geskerts tussen die liedjies deur.

“Ons optredes is eintlik heel komies. Ons is regtig net onsself op die verhoog en al is ons musiek statige liefdesliedjies, maak ons seker ons bring ons persoonlikhede in. Tussendeur skerts ons lekker met mekaar en die gehoor – dis baie pret,” sê Rudi.

“En ons leef ons uit in die musiek. Dis eintlik baie persoonlik, ons blaas regtig emosie in die woorde en raak heeltemal in vervoering – in so ’n mate dat ons soms mekaar se oë moet vermy, anders sal ons sien die ander se ogies begin so ’n bietjie blink en dan kom ’n mens baie naby daaraan om in trane uit te bars!” sê Corlea.

Moenie die someruitgawe van Tempo 2010 misloop nie - daarin vertel ons nog heelwat meer van die twee talentvolle mense se lewens.

KYK ONS VIDEO VAN RUDI & CORLEA