Vrydag gaan die bekende TV-joernalis Ruda Landman geklee in ‘n swart toga met ‘n tossel neffens haar linkerslaap in die DF Malan-gedenksentrum aan die Universiteit Stellenbosch (US) hoor hoe haar naam aangekondig word.

Want dié TV-persoonlikheid ontvang ‘n eregraad van die US, ook haar alma mater.

Sy ontvang die graad PhD, HONORIS CAUSA vir haar bydrae as wyd erkende doyenne van ondersoekende TV-joernalistiek in Suid-Afrika, wat sy tot ‘n ongekend hoë vlak van mededinging en prestasie help omvorm het.

“Dit is vir my ‘n ongelooflike voorreg. Só iets wat uit die bloute na ‘n mens toe kom,” vertel Landman.

“Jy weet, dis erkenning vir ‘n leeftyd van goeters doen. En dan op ‘n dag kom iemand wat jy respekteer, soos die US, en sê vir jou ‘Ons het gesien wat jy doen en ons voel jy verdien erkenning’.

Aan die een kant voel ‘n mens so nederig, maar aan die ander kant voel ‘n mens so bly.”

Ruda se loopbaan:

Landman het bekend geword in 1985 as aanbieder op Netwerk (Suid-Afrika se eerste regstreekse TV-aktualiteitsprogram).

In 1988 word sy saam met mede-aanbieder Derek Watts aanbieder van Carte Blanche op MNet. In 2007, ná 19 jaar van kuier in die volk se sitkamers, groet sy dié joernaalprogram. Ná sy weg is by Carte Blanche was sy vir ‘n tyd lank betrokke by die gestorwe Boeke-Insig.

Sy het ook vroeg in haar loopbaan vir die SAUK se Afrikaanse radiodiens gewerk. Sy het tale aan die US studeer en was primaria van die koshuis Huis ten Bosch.

Sy is op die oomblik aanbieder van die mediese kykNET-program ‘n Lewe met... waarvan die tweede reeks nou uitgesaai word. Sy is ook deeltydse dosent in TV-joernalistiek aan die US se departement joernalistiek.

Ander wat ook vereer word:

Landman word saam met die internasionaal gerekende regsakademikus en –praktisyn, prof. John Dugard, die toonaangewende en innoverende leier in die finansiële sakesektor, mnr. GT Ferreira, die wêreldwyd gerekende spesialis in lugverkoelde kragstasiekoeltorings en professor in meganiese ingenieurswese, prof. Detlev Kröger en die kampvegter vir geregtigheid en ? demokratiese bestel in Suid-Afrika en voormalige hoofregter van Suid-Afrika, regter Pius Langa met eregrade vereer.

Dugard, Ferreira, Kröger en Landman het almal aan die US studeer.

Volg Huisgenoot op Twitter.