Daar bewys Jacob Zuma toe weer dat niks hom sal keer om die verkeerde ding te doen nie. Nie die pleidooie van top-ANC’s nie en ook nie die stem van ’n struggle-ikoon uit die graf nie.

Die tragiese hier is die voorspelbaarheid van sy skuif om Pravin Gordhan en ander ministers met Zuma-Gupta- chronies te vervang – JZ het immers dekades gelede al die eerste skote geskiet van die end game waarmee hy nou besig is.

Kyk, om intelligensiebaas van ’n vryheidsbeweging in die apartheidsjare te kon wees, het nie in enige ou se broek gesit nie. Om te oorleef moet jy bondgenote maak waar en wanneer jy hulle nodig het, jy moet kan deals maak, ’n dirty trick of twee. Operate.

En daardie lesse pas Zuma die politikus steeds toe.

Ek onthou Zuma die dag in 1994 nadat die omstrede verkiesingsuitslag in KwaZulu-Natal eindelik aangekondig is. Hy was so kwaad soos ’n slang toe hy by die wetgewergebou in Pietermaritzburg ingestorm het. Hy, ’n Zoeloe-tradisionalis van Nkandla, kon nie die provinsie wat die etniese tuiste van die Zoeloes is vir die ANC wen nie. Mangosuthu Buthelezi, IVP-leier, was tóé die ware “100% Zulu Boy”.

Sien, as provinsiale ANC-leier het Zuma het toe al geweet: gee hy KZN met sy miljoene Zoeloe-stemme vir die ANC, is hy ’n reuse-tree nader aan die presidentskap van die ANC én die land.

Eers was hy dwars. Hy wou die uitslag van die “bekookte verkiesing” in die howe gaan beveg. Hy het die IVP se olyftak aan hom – die pos van LUR vir openbare werke – as ’n klap in die gesig bestempel. En verklaar ANC-LUR’s sal die wetgewer-sittings in Ulundi (politieke setel van die IVP en die voormalige KwaZulu-tuisland) boikot.

Maar eindelik het hy die IVP se 1994-oorwinning (en die pos as LUR vir finansies en toerisme) aanvaar. En die pad Ulundi toe aangepak (die hele ANC-leierskap in een lang konvooi, met flitsende blou ligte en gewapende lyfwagte).

Maar in ’n goeie gees was dit nie. In die wetgewer was die IVP en die ANC soos twee veghane, terwyl die politieke geweld in die provinisie voortgeduur het.

Zuma was op die oog af ’n traak-my-nie-agtige LUR. Maar agter die skerms het Zuma gewys watter uitgeslape politikus hy eintlik is. Die ou intelligensie-baas het weer ingeskop.

Zuma het probeer om deals te maak met die vyand: Kyk, ANC-leiers én IVP-leiers in KZN het bloedbevlekte hande. Gooi jul masjiengewere in die see in ruil vir ’n algemene amnestie vir almal. Maar die WVK, asook sommige in die binnekringe van die ANC, het gesê “ no deal”.

Hy het hom op die mag van die nasionale regering beroep om die siklus van politieke geweld te verbreek, sodat die ANC steun kon gaan werf in die platteland waar IVP-moordbendes ’n skrikbewind gevoer het. Die soort hardhandige ingryping wat Zuma gevra het, het genadiglik nooit gekom nie. Dit sou ’n lae-intensiteit-burgeroorlog in ’n volskaalse bloedbad omskep het.

Maar uitgeslape operator wat hy is, het Zuma sy taktiek verander – en stilweg die verdeel-en-heers-plan begin uitvoer wat eindelik die provinsie vir die ANC sou wen.

En hier het hy al gewys hoe ongenaakbaar hy kan wees.

Die meesterplan – soos dit destys klandestien in ’n Durbanse hotelkroeg vir my uitgespel is deur ’n ANC-gesinde lid van die koningsgesin – was eenvoudig: Breek Buthelezi se houvas van vrees op die Zoeloe-koning Goodwill Zwelithini. Sodoende breek jy ook Buthelezi se houvas op Zoeloe-hoofmanne. En doen jy dít, breek jy die IVP se houvas op die Zoeloe-gemeenskappe in die platteland.

Die snykant is dat Zuma moes geweet het dit sou tot meer bloedvergieting lei.

Zuma het twee dinge gebruik: Sy wortels diep in die konserwatiewe Zoeloe-hartland. En die nasionale regering se geldkoffers.

Sy Zoeloe-identiteit het Zuma gebruik om na aan die koning te kom. By die Shakadag-vieringe in KwaDukuza, waar pres. Nelson Mandela nie welkom was nie, was Msholozi (Zuma se prysnaam) in luiperdvelle te sien waar die impi’s voor die koning geparadeer het.

Zuma het ook agter geslote deure met die koningshuis onderhandel.

Verwerp Shenge (Buthelezi se prysnaam) in die openbaar en die nasionale regering sal die uitgebreide koningsgesin met hul paleise en bediendes onderhou. Jy sal beskerm word teen die IVP se wraak.

Zwelithini het geluister. En die bloed hét gevloei – ook dié van koninklikes. Maar dit het gewerk. Dit was die begin van die einde van IVP-heerskappy. Die res is geskiedenis.

Destyds in die Zoeloe-hartland het ek daardie lag van Zuma leer ken. En, toe ek dit die eerste keer hoor, gedink: Hy lag met sy mond, maar nie met sy oë nie. Daardie lag het my van dag een af die creeps gegee.

Fast forward na die ANC-leierskonferensie in Polokwane, Desember 2007. Ek kyk hoe ’n verpletterde, vernederde Thabo Mbeki onder die gejou van ANC-afgevaardigdes van die verhoog af strompel, Zuma se politieke mes diep in sy rug gedruk. En ek dink: só sal Zuma nooit die politieke arena verlaat nie, nie so verslae en gelate nie. Hy sal veg tot die bitter einde – en almal saam met hom oor die afgrond trek as dit moet.

Dit was net ’n gedagte, maar dis ’n gedagte wat na al die jare maar net nie wil wyk nie.

Op die toneel van Mbeki se 2007-nederlaag is daar ’n kaal rotskoppie wat nes Zuma se kop lyk. Op die grou, reënerige dag na die drama van die ANC-leierverkiesing het ek Zuma se kop, soos ek vir altyd daaraan sal dink, uitgeklim en noordwaarts getuur, in die rigting van Zimbabwe. En gewonder: is dit waarheen ons op pad is?

Dit voel vir my ons het intussen ’n tree of drie in daardie rigting geneem.

Spring vorentoe na Zuma se inhuldiging as staatspresident by die Uniegebou in Pretoria. Nog ’n grou, reënerige dag.

Bo-op Meintjieskop het die politieke elite en ryk eregaste, toegewikkel in snoesige komberse en onder gholfsambrele wat spesiaal vir hulle aangekoop is, op sagte stoele gesit terwyl Zuma hulle van die verhoog af toegespreek het. Onder hulle was Julius Malema, toe nog een van Zuma se bondgenote.

Ver onder, op die suidelike grasperk van die Uniegebou, het die armes saamgebondel om hul gewaande “swart Jesus” se woorde op ’n groot skerm te volg. Sonder gratis komberse of sambrele om hulle teen die reën en

koue te beskerm.

Maar hulle het bankvas bly staan, want hulle het gekom om die man aan wie hulle by die stembus ’n mandaat gegee het om hul lewens te verbeter, in sy groot oomblik te sien. Bo in die amfiteater kon ’n mens tydens Zuma se toespraak telkens die vuvuzelas se dreunstem van onder af hoor opklink – soms sag, ander kere weer harder.

Dit was ’n ongeduldige en ietwat onheilspellende klank, so asof dit die bedoeling was om Zuma te herinner: “Beloftes maak skuld.”

Zuma het duidelik die boodskap van daardie vuvuzelas verontagsaam -- daarvan is sy middernagtelike afdanking van Pravin en ander ministers die bewys. Vir die armes en sy verkiesingsbeloftes aan hulle voel hy vere.

Intussen klink ’n vuvuzela-koor van oproepe om Zuma se bedanking op. En ironies is een van die voorblasers sy ou bondgenoot Julius Malema. Maar met die Zuma-Gupta-franchise se greep op ons land en geldkoffers sterker as ooit tevore, kan mens met redelike sekerheid aanvaar dat Zuma doof sal bly.

Wat hou die end game vorentoe in?

Zuma en sy kamp se regverdiging om Mbeki omver te werp, was dat Mbeki ambisies vir ’n derde, ongrondwetlike leierskaptermyn gehad het. Die vraag is, sal Zuma vrywilliglik die mag oorgee wanneer sý wettige termyn verstryk? Of sal hy vir homself ’n derde termyn wil vat om te voorkom dat sy ou regsprobleme hom weer kom teister?

Ek onthou weer hoe Mbeki in 2007 verslae en verslane van die verhoog in Polokwane gestrompel het terwyl Zuma selfvoldaan toekyk. Maar Zuma is nie Mbeki nie.

Wanneer die lang messe uitkom, is niks meer seker nie.

Deon Lamprecht (Huisgenoot-redaksielid)