Die oggend nadat Ruben Kruger sy 10 jaar lange stryd teen kanker verloor het, het sy vrou, Lize, hul dogters, Isabella (4) en Zoë (7), wakker gemaak en gesê ‘‘Pappa is hemel toe’’.

‘‘Die reaksie op Ruben se dood is oorweldigend. Ek het 1 900 e-posse gekry,’’ vertel sy. Hy was ’n stil man wat nie veel gekuier het nie en nie daarvan gehou het as mense ’n bohaai oor hom maak nie. Selfs toe hy van 1993 tot 1999 as Springbok-flank uitgedraf het, was rugby nie die spil waarom sy lewe gedraai het nie.

‘‘Hy het rugby geniet. Dit was wonderlik om daarin te deel toe ons in 1995 die Wêreldbeker gewen het. Maar vir Ruben het die lewe oor meer as rugby gegaan. Ons huwelik het eerste gekom.’’

In 2000 het dokters ’n breingewas by hom gediagnoseer. Dit was ’n groot skok, maar dit het net hul liefde vir mekaar en hul geloof verdiep. Kort ná die diagnose het die oud-Bloemfonteiner hom tot die geloofsgeneser TB Joshua in Lagos gewend. Ses jaar lank het breinskanderings gewys hy is kankervry, maar in 2007 is ’n gewas weer gevind. Sy rugbydae was op ’n einde omdat ’n gat in sy skedel geboor is om die gewas te verwyder en ’n harde stamp tot skedelbreuk of bloeding kon lei.

Dit was baie sleg toe die kanker in 2007 weer kop uitsteek. Die gewas was kwaadaardig en nadat dit verwyder is, moes hy bestraling kry.’’

Hul tweede terugslag was in 2008 in die Desember-vakansie. Weer is ’n gewas, van sowat 5 cm in deursnee, verwyder. Die Kruger-gesin het net weer asem geskep toe Ruben vyf weke ná die operasie sy bewussyn verloor het terwyl hy in Pretoria bestuur het. Sy gesin was saam met hom en Lize het die stuurwiel gegryp, maar hulle het teen twee ander voertuie gebots voor hul Land Rover in ’n sloot beland het.

Hy het in Desember verlede jaar weer siek word. Hy is soos soveel keer tevore in die Pretoria-Oos-hospitaal opgeneem, waar hy uiteindelik op 27 Januarie dood is.

Meer hieroor in Huisgenoot van 11 Februarie.