Verskeie motors het glo teen die sand op die pad ingeploeg. Die polisie het van rubberkoeëls gebruik gemaak om die ontstoke betogers onder beheer te bring.

Een van die vulstasies in die omgewing het lelik deurgeloop.
“Ek het uitgespring en gehardloop,” het die bestuurder van ’n vragmotor aan News24 gesê. Hy het in die moeilikheid beland toe sy vragmotor op ’n rots in die pad vasgesteek het. Nadat gewelddadige betogers sy vragmotor omgekeer het, het hulle dit ook aan die brand gesteek.
’n Bakkie is na bewering ook aan die brand gesteek.
Sommige inwoners van Lenasia en Eldoradopark kan na bewering ook nie by hul werk uitkom nie vanweë die protesaksie. Leerlinge word ook huis toe gestuur.
Hoewel die N12 intussen oopgestel is, is die Goue Hoofweg steeds vir verkeer gesluit vanweë klippe en brandende bande op die pad. Motoriste word ernstig vermaan om alternatiewe roetes te volg. Die hoofingang na Eldoradopark vanaf die hoofweg word ook versper.
Die situasie word as “gespanne” beskryf.
Die protesaksie hou vermoedelik verband met behuising in die gebied.

Bronne: news24.com, jacarandafm.com