Twee van Suid-Afrika se Grammy-wenners, Wouter Kellerman en die Soweto Gospel Choir, deel die verhoog in ‘n spesiale feeskonsert, en drie kort komiese radiodramas uit die pen van die bobaas-storieverteller Jan Spies gaan die luisteraars se lagspiere prikkel.

Die RSG Kunstefees 2016 begin op Sondag 13 November met ‘n regstreekse uitsending van Amanda Strydom se veelbekroonde kabaret, State of the Heart.

Die bekroonde radiokunstefees sal duur tot Vrydag 18 November en is dus weer ses dae lank.

Joey van Niekerk se opdragwerk, Engel met ‘n hamer, oor die lewe van die dominee, teoloog en anti-apartsheidaktivis Beyers Naudé beloof om ‘n feeshoogtepunt te wees. Dit is die eerste keer dat Naudé se verhaal in ‘n drama vergestalt word en word moontlik gemaak met ‘n borgskap deur die Cordis Trust.

Dit is ‘n tydlose liefdesverhaal, maar terselfdertyd ‘n drama oor geloof en hoop.

Die Suid-Afrikaans gebore internasionale mezzosopraan Michelle Breedt tree eksklusief vir die RSG Kunstefees op in ‘n program waarin sy Afrikaanse, Duitse en Engelse liedere gegrond op Shakespeare-gedigte, asook arias uit gewilde operettes sal sing.

Sy het reeds met die wêreld se voorste dirigente gewerk en hoofrolle gesing tenoor Plácido Domingo, Thomas Hampson, Piotr Beczala, Diana Damrau en Renée Fleming, om net enkeles te noem. Sy sal deur Elna van der Merwe begelei word.

Sarah Baartman van die Gamtoos in die Oos-Kaap moes in die negentiende eeu in Europa as ‘n frats paradeer. Nou, vir die eerste keer, word die grense van radiodrama en dokumentêr oorgesteek in Karien Polley se opdragwerk Sarah. Dit is laataand wanneer Sarah en die man langs die vuur mekaar in die oë moet kyk en die waarheid ontbloot word...

Die Stellenbosse digter Marius Titus se 70ste verjaardag word gevier met ‘n reeks voorlesings uit sy oeuvre van die afgelope drie dekades, terwyl die kleinspan saans kan naderskuif vir Kobus Ras se Die Dingusse – ‘n reeks oor eienaardige “goeters” wat saamwoon en mekaar nooit, ooit kan verlaat nie!

Die regisseur Bettie Kemp het William Shakespeare se komedie, Twaalfde Nag, spesiaal vir die radio verwerk. Ter viering van die tydlose dramaturg se heengaan 400 jaar gelede word hierdie Uys Krige-vertaling spesiaal vir die RSG Kunstefees opgevoer.

In Boegoe vannie liefde sing die sangeres-liedjieskrywer Lize Beekman aangrypende toonsettings van Hans du Plessis se transponerings van Hooglied. Dit is ‘n program van woord en musiek oor liefde tussen die duine in ‘n Afrikaans wat van toeka af al in die sand onder die kameeldoring lê.

Die aktrise Woutrine Theron het ter viering van die geliefde rubriekskrywer Audrey Blignault se 100ste verjaardag, die produksie ‘n Oulap se rooi saamgestel. Theron vertolk die rol van Blignault in ‘n radiodrama oor die kleurvolle vrou van Bredasdorp.

Die skrywer en letterkundige Riana Scheepers het die Griekse digter Sappho se verse spesiaal in Afrikaans vertaal en verwerk en dit is deur die sangeres-liedjieskrywer Marlise Scheepers getoonset. In Die liefde, bittersoet leer ken ons die omstrede vrou wat deur Plato as “die tiende muse” beskryf is.

Die aktrise Jana Cilliers lewer ‘n kragtoer in die Esther Vilar se omstrede solostuk, Pous Johanna II, wat geloof en godsdiens in die moderne wêreld bekyk. Dit is die jaar 2033 en die dogter van ‘n prostituut word as pous verkies.

Egskeiding, geboortebeperking en homoseksualiteit is toelaatbaar. Daar is geen dogma, doodsondes of gebede nie. En nou moet Pous Johanna II haar inhuldigingstoespraak op TV lewer.

Anton Goosen het vanjaar sy 70ste verjaardag gevier. In Danzer sluit Zolani van Freshlyground, David Kramer, Tribal Echo, Churchill Naudé en Sima Mashazi hulle by Goosen en sy Bushrockband aan vir ‘n reis deur die grensverskuiwende musiek van sy Danzer-album.

Emo Adams, Schalk Bezuidenhout en Lindie Stander vorm ‘n gedugte driemanskap onder leiding van die bekkige Johan Rademan in vryLAG, ‘n komiese, nuwe radioproduksie wat ‘n stortvloed van lagbuie gaan verseker.

In Lief-lief deur Afrikaans neem die voordragkunstenaars Johann Nel en Joanie Combrink die luisteraar op ‘n soomlose liefdesreis saamgestel deur Juanita Swanepoel. Met die werk van sowat 28 digters en van die heel oudste én stoutste liefdesverse in Afrikaans verken hulle ‘n paar interessante afdraaipaadjies. Dit is ‘n woordedans wat die hartstog, passie en patos van die liefde skitterend blootlê.

Die komponis en operasanger Geo Hoehn se klankbane is al as “epies” bestempel. In sy opdragwerk verken hy “grond” en wat dit vir mense beteken met ‘n roerende klankeksperiment.

André Kotzé het drie van Jan Spies se verhale as radiodramas verwerk. Luisteraars gaan lekker lag vir Dawid en Jonathan, Ditto en do asook ‘n Poort deur die koue. Richard van der Westhuizen en Rina Nienaber is van die spelers in hierdie stukke met hul aardse humor.

Krisjan Fourie is die skrywer van Die onsigbares, ‘n reeks van vyf klankstories wat ‘n heel nuwe blik bied op ‘n paar geskiedkundige gebeure. Nic de Jager is die voordragkunstenaar met Paul Riekert (van Battery 9-faam) wat die klanklandskap geskep het.

Antonio Vivaldi se Vier seisoene is byna 300 jaar gelede gekomponeer en die gedigte wat vir elke seisoen geskryf is, is glo deur Vivaldi self geskryf. Hierdie vioolkonsert is nou op ‘n unieke manier vir ‘n driestuks musikante verwerk.

En dr. Dawid de Villiers het die Italiaanse sonnette in Afrikaans vertaal. Petrus de Beer (viool), Stanislav Angelov (trekklavier) en Schalk Joubert (baskitaar en voordrag) reis met woord en musiek deur die jaargetye.

Die digter Lina Spies se tiende digbundel word eksklusief tydens die RSG Kunstefees bekend gestel met ‘n onderhoud met haar en voorlesings van die gedigte uit die nuwe bundel Sulamiet.

Ander kunstenaars wat deel vorm van vanjaar se fees sluit in die skrywer-aktrise Lerina Erasmus wat haar nuwe roman, Die Lelie-moordenaar, eksklusief tydens die fees bekend stel, Johan Myburg, die skilder Conrad Theys en kunstenaars soos Alistair Izobell en Loukmaan Adams wat hul loopbane in die ikoniese Luxurama-teater in Kaapstad begin het.

Die gewilde profielgesprekke, ‘n feeskunstenaar en ‘n ander opwindende projek sal mettertyd aangekondig word.

Christelle Webb-Joubert en Johan van Lill sal elke dag die oggend-kunstefees (van 09:00 tot 12:00) aanbied en Renske Jacobs die aandprogramme (van 19:00 tot 22:00).

Naas die Cordis Trust het die Dagbreek Trust verskeie van vanjaar se feesproduksies geborg.

Die eerste radio-kunstefees is reeds met die Fleur du Cap-teaterprys vir vernuwing bekroon, asook met die Business Arts South Africa (Basa) se prys vir vernuwing.

RSG Kunstefees begin op Sondag 13 November om 15:00 en word op Vrydag 18 November om 22:00 afgesluit. Die fees word op 100 tot 104 FM gehou of op DStv-kanaal 813. Al die feesaanbiedinge is gratis. Die fees kan ook aanlyn beleef word op rsg.co.za of op Facebook op die blad RSG Kunstefees.

Die volledige daaglikse feesprogram sal vroeg in November beskikbaar wees.