“Sy’s verskriklik hot!” sê Snotkop.

“Wanneer ’n mens aan Roxy Louw dink, dink jy aan die see, sand en surfing. Sy surf baie goeie en het al baie bereik met haar modelwerk. Sy is ook ongelooflik mooi en ’n baie dierbare mens. Sy kan die surfer look doen en ook die klassieker, retro look wat ons in die video gebruik het,” vertel Snotkop opgewonde. Die liedjie het ook ’n storie. “Ek het een aand iemand ontmoet wat my vertel het van ’n dame wat knaend in die karavaanpark by Hartenbos verdwaal het wanneer sy van die ablusieblok af teruggestap het karavaan toe. Dit was laat in die aand en sy het elke keer in die verkeerde karavaan geklim. Heel onskuldig kruip sy dan langs die verkeerde man in die kooi... Later het die karavaanpark begin gons oor die dame en het al die vroue gesê dis dalk veiliger as almal hul karavaandeure snags sluit,” vertel Snotkop laggend. Hy hou van die liedjie en video se tong-in-die-kies-benadering.

'Hiekies is so ’n lekker woord.'

“Hiekies is so ’n lekker woord, en die meeste mense weet wat ’n hickey is. Almal moes dit al in ’n stadium beleef het, maar is te skaam om dit te erken. Dis lekker prettig... dis nou die liedjie en ja, soms ook ’n hickey.”

Maar al speel die liedjie op Hartenbos af, is dit in ’n tegnologies gevorderde ateljee ver van die strand geskiet. Hulle wou rondspeel met die strokiesprent-effek.

“In die video staan ek en Roxy op ’n roterende platvorm terwyl ons al in die rondte te kere gaan. Maar die ding het uit die bloute ál vinniger begin beweeg en ek het meer as een keer deur die lug getrek,” verklap hy laggend.

Die album Soos ’n Boss het onlangs goue status bereik en is vinnig op pad platinum toe.

“Dit was soveel pret om die album op te neem. Die songs is meestal lekker kuierliedjies en daar is ook ’n lied wat ek vir my ma geskryf het,” sê Snotkop, wat tans twee weke lank deur Australië en Nieu-Seeland toer.

- Suzanne Venter