As jy jouself in Julie in Amerika bevind, gaan na San Francisco as jy kan en gaan geniet dié scenario. Die San Francisco Dungeon, ’n toeriste-aantreklikheid in die Amerikaanse stad, maak vir twee dae in Julie die Black Rat Café oop waar besoekers ’n stomende koppie koffie kan geniet terwyl mak rotte oral rondhardloop.

Vir sowat R664 ($50) kan klante ’n bodemlose koffie, gebak en die rotte geniet. Geen kos word egter op die perseel voorberei nie en dit sal skoongemaak word voor die knaagdiere daar losgelaat word.

“Ons volg natuurlik al die nodige vereiestes wat kos en higiëne betref,” het Matthew Clarkson van Dundeon aan Eater gesê.

Maar hoekom die vreemde kombinasie van kafeïen en knaagdiere?

Wel, die “skoon” rotte word verskaf deur Rattie Ratz, ’n organisasie sonder winsbejag, en as besoekers hul hart op een van die diertjies verloor, kan hulle hul aanneem.

“Hulle maak baie goeie troeteldiere,” sê Clarkson. “En as jy na hulle omsien, is hulle so skoon soos ’n kat of hond.”

Sjoe, ons weet darem nie . . .

Bronne: sf.eater.com, sfgate.com, metro.co.uk