Wat is die lewe tog sonder ietsie soets? Probeer gerus hierdie smullekker roos-en-pistachio-sjokolade-mousse, saamgestel deur Checkers en Die Nataniël Tafel.

Jy kort:

  • 250g 70%-donkersjokolade
  • 45 ml botter, gesmelt
  • 3 eiers, geskei
  • 60 ml versiersuiker
  • 20 ml rooswater
  • 100 g pistachioneute fyngekap
  • vars bessies van jou keuse

Metode:

Plaas die sjokolade en botter in ’n glasbak oor ’n pot met kookwater en roer tot gesmelt. Verwyder van die hitte en roer die eiergele een-een by; as die mengsel dalk skif, gooi ’n klein bietjie volroommelk by. Meng die rooswater by. Klits die eierwitte tot sagte punte vorm en gooi die versiersuiker by terwyl jy klits. Hou aan klits tot blink en styf. Vou by die sjokolademengsel in. Skep in klein glasbakkies van jou keuse. Sprinkel die neute oor. Sit voor saam met gebakte oblietjies en vars vrugte.

- www.dienatanieltafel.co.za/roos-en-pistasie-sjokolade-mousse/