Die enigste ding meer betowerend as ’n lipleklekker roomys op ’n warm dag, is ’n roomys wat van kleur verander.

En danksy ’n Spaanse fisikus se vernuf, is hierdie unieke roomys dalk binnekort te koop, berig die Spaanse nuusblad Cocinatis.

Die fisikus, Manuel Linares, het die spesiale roomys geskep en dit Xamaleón gedoop – ’n verwysing na die Spaanse woord vir verkleurmannetjie.

Die roomys skop blou af, en nadat jy dit met ’n spesiale ‘liefdesekstrak,’ soos Manuel dit noem, bespuit, verander dit na ’n donkerpienk skakering binne sowat 15 sekondes.

Namate jy dit lek, verander dit dan verder van kleur na verskillende skakerings pienk en pers.

Volgens The Mirror het die roomys ’n vrugtegeur, en staan mense behoorlik tou vir die unieke roomys by Manuel se roomyswinkel in die dorpie Calella de Mar. Hy beoog nou om dit internasionaal bekend te stel.

Manuel is nog nie bereid om die geheim agter sy verkleurmannetjie roomys uit te lap nie, maar hy het aan die Diai de Girona-koerant gesê die towerkrag lê in die spesiale liefdesekstrak en nie in die roomys self nie.

Bronne: The Mirror, Cocinatis, Diai de Girona

Kyk die video van die roomys wat van kleur verander hier: