Met haar rooi hare en mooi glimlag was sy haar ouma se waaiende tolbossie.

Klein Carlie du Plessis (6) het reeds op haar pa se plaas buite Clocolan leer motor bestuur. Sy het vlot Sotho gepraat en was baie lief vir diere en vir die natuur.

Maar toe word sy verlede Woensdag siek. Sy het naar gevoel en baie koud gekry. Teen Sondag was sy nog nie beter nie en haar pa, Johann, het met haar na Bloemfontein gery. By die hospitaal was sy reeds verlam. Sy is die aand oorlede.

Gister het die skok gekom: Carlie is dood aan hondsdolheid.

Prof. Lucille Blumberg, adjunkdirekteur van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), sê Carlie is die tweede persoon vanjaar wat weens dié aaklige siekte sterf.

Die ander geval was ’n 16-jarige seun van die Zoeloeland-distrik wat in Januarie vanjaar daaraan beswyk het.

Daar was ’n uitbreking van die siekte in Gauteng nadat dit by 10 diere gediagnoseer is. Die diere was ses jakkalse, drie beeste en ’n Deense hond wat nie ingeënt was nie. Geen voorvalle is in dié tyd aangemeld van mense wat hondsdolheid opgedoen het nie.

“Daar was baie mense wat al blootgestel is aan hondsdolheid, maar hulle het voorkomende behandeling ná blootstelling gekry wat 100-persent-doeltreffend is,” sê Lucille.

“Mense moet onderskei tussen gevalle waar mense blootgestel word aan hondsdolheid en gevalle waar mense die hondsdolheid in die brein het. Dit gebeur net wanneer iemand deur ’n dier wat hondsdolheid het, gebyt word en die tande breek die vel dat die virus die liggaam kan binnegaan.

“Tog is dit ook belangrik om te weet: Nie elke dier wat jou byt, sal jou hondsdolheid gee nie.”

Lucille sê jaarliks word gemiddeld vyf tot 10 voorvalle aangemeld van mense wat weens hondsdolheid sterf.

Wat is hondsdolheid?

Volgens Nios se webtuiste is hondsdolheid ’n voorkombare virale siekte. Die hondsdolheidsvirus affekteer die sentrale senuweestelsel en veroorsaak siekte in die brein.

Daar is geen doeltreffende behandeling vir hondsdolheid nie en sodra die simptome eers begin, is die dood onafwendbaar.

Die hondsdolheidsvirus word oorgedra van besmette diere na mense deur krapmerke, byte of lek op die slymmembrane van die lippe of oë.

Hoe voorkom ’n mens hondsdolheid?

Hondsdolheid kan op vier maniere voorkom word:

  1. Immunisering vir mense teen hondsdolheid is beskikbaar. Dit is veilig en doeltreffend.
  2. Ent jou troeteldiere in teen hondsdolheid. Dit is die wet. Honde en katte moet op drie maande en nege maande ’n inenting kry en dan elke drie jaar daarna.
  3. Sorg dat ’n dier jou nie byt nie, veral ’n rondloperdier, ’n siek dier of een wat vreemd optree.
  4. Wanneer jy blootgestel word aan ’n dier wat vermoedelik hondsdolheid het, was die wond minstens 10 minute met water en seep om die virus uit te was.

Kry so gou moontlik mediese hulp nadat jy blootgestel is aan ’n dier wat moontlik hondsdolheid het.

Waarna moet jy uitkyk?

Die eerste simptome is soos dié van griep. Dit sluit in koors, hoofpyn en moegheid. Die persoon sal later probleme ervaar met sy asemhaling, spysvertering en/of sentrale senuweestelsel. Daar kan ook tekens wees van hiperaktiwiteit of verlamming wat later kan veroorsaak dat die persoon in ’n koma verval. Die pasiënt sal binne die eerste sewe dae van die siekte sterf.

Ekstra bronne: Netwerk24, www.nicd.ac.za