Suid-Afrika se “Moeder van Rooibos”, Dr. Annique (Annekie) Theron is Maandag in die ouderdom van 86 oorlede.

[caption id="attachment_118338" align="alignnone" width="600"]Annique Theron (Foto: Facebook, Annique Health & Beauty Home Office) Annique Theron (Foto: Facebook, Annique Health & Beauty Home Office)[/caption]

“Dit is met leedwese en hartseer dat ons u meedeel van die afsterwe van ons stigterslid van Annique Velsorgprodukte, Dr. Annique Theron . . . Ons bied ons innige meegevoel aan haar familie en aan almal wat so lief vir haar is, soos wat ons is," het die onderneming se hoofkantoor op Facebook aangekondig.

Annique is Maandagoggend ná ’n kort siekbed in haar slaap oorlede.

Lees ook: Oud-Springbok Klippies Kritzinger sterf

In ’n boodskap van haar kinders, Henk, Marius, Suzette en Lorinda bring hulle hulde aan hul ma: “In haar openbare lewe was dr. Theron bekend as ’n pionier en ’n briljante en suksesvolle besigheidsvrou. In haar privaat lewe, het sy haar familie, vriende en kollegas gekoester. Ons is dankbaar vir die ondersteuning en guns van diegene wat ons gevoelens vir dr. Theron deel. Ons weet dat baie van julle haar afsterwe saam met ons sal betreur."

Annique se seun Henk het in ’n onderhoud in 2010 oor sy ma se verhouding met rooibostee gesê: "Dit was iets wat  ’n mens net in die tronk in in arm agterlike woonbuurte gedrink het, maar my ma het daardie beeld verander. Sy het as't ware die tee uit die tronk tot in Royal Albert-koppies gekry."

In ’n destydse onderhoud (1989) wat Huisgenoot met Annique gevoer het, het sy oor haar velsorgreeks gesê: "Dit werk, dit maak mense gelukkig. En ’n mooi mens is ’n gelukkige mens. Goedversorgde mense tree met selfvertroue op. Want hulle het ’n sterk selfbeeld."

Destyds het haar onderneming reeds ’n omset van R25 miljoen gehad.

Sy is een van Suid-Afrika se bekendste sakevroue wat sedert 1968 ’n internasionale sakeryk opgebou het nadat sy op die genesende aard van Rooibos afgekom het.

Sy het aanvanklik haar allergiese baba, Lorinda, rooibostee in haar bottel gegee en Lorinda het vir die eerste keer sedert haar geboorte deurgeslaap. Haar allergie vir selfs moedersmelk, het al minder geraak.

Annique het meer navorsing oor die onderwerp gedoen en eindelik in ’n skoonheidsmagnaat ontluik. Deesdae het haar onderneming 15 000 konsultante wat oor die 200 produkte bemark.

Die skoonheidsonderneming voer na agtien lande uit.

"Is daar sprake van goddelike toetrede? Dan, was dit dié dag toe ek die teenallergiese eienskappe van rooibostee ontdek het," het Annique op die mondigwording van haar onderneming aan Huisgenoot gesê.

– Pieter van Zyl

Ander stories op Huisgenoot.com

Friends-reünie groot teleurstelling vir lojale aanhangers

Kyk: Oorstelpte vrou en haar hondekind ná maande lange soektog herenig

Verkeersowerhede ‘getraumatiseerd’ oor padsterftes

Kyk: Joost sê dankie vir lesers se pragtige boodskappe met spesiale foto van hom en sy kinders

Ken jy bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars se regte naam?