Dit was ‘n uithanggeleentheid soos min toe M-Net hul nuwe sepie, The Wild, gister tydens ‘n funksie by Montecasino in Fourways aan die media en publiek bekendgestel het.

The Wild begin vanaand 6 uur op MNet.

Dis ‘n eerste vir Suid-Afrika: anders as al die vorige sepies, word die een nie in ‘n ateljee verfilm nie, maar buite, soos ‘n gewone drama.

Ian Roberts, wat as Karel van Reenen te sien is, sê dit is “ekstra lekker om saam met die ander groep akteurs, die diere, te speel”.

TV-kykers ken hom as dr. Rico Maartens in die sepie Binnelanders, maar in The Wild gaan die akteur James Alexander in ‘n heel ander gedaante te sien wees: die van die passievolle bewaringskundige Tristan van Reenen.

Dié woelwater-akteur hardloop nou tussen twee filmstelle rond: hy werk intussen ook aan sy en sy vrou, Anel, se eie rolprent, Semi Sweet, wat vroeg volgende jaar uitgereik sal word.

“Gelukkig kry ons elke sewende week, vir ‘n week af by The Wild.”

Oor Semi Sweet is hy baie opgewonde.  “Sandra Vaughn se teks is skreeusnaaks,” vertel hy van die fliek wat hy beskryf as ‘n “liefdesverhaal wat inspireer”.

Die langbeen Noord-Kapenaar Gail Nkoane het met haar nousluitende rok die koppe laat draai tydens M-Net se bekendstellingsfunksie, maar sy sal ook kykers regop laat sit in die rol van Lelo Sedibe, ‘n jong en sexy moderedakteur op soek na ware liefde.

Gail was verlede jaar natuurlik ook een van die Top14-Idols-finaliste – maar nou dat die sepie-kamera’s haar nadergewink het, beteken dit nie ondersteuners sal haar nooit weer hoor sing nie.

Sy vertel sy is besig om in haar vrye tyd aan ‘n album te werk, hoewel sy nou eers op The Wild sal konsentreer.