Helen Zille en die DA kondig met trots aan die Wes-Kaapse regering gaan vir peperduur opknappings aan haar ampswoning betaal, die Springbok-rugbyspan gaan vanjaar in bloedrooi truie uitdraf en jy kan e-tol omseil deur presies 113 km/h te ry.

As dié nuus vanmôre vir jou effe vreemd geklink het, verkwalik jou kalender.

Gekkedag het mense weer met ’n rits onwaarskynlikhede en rare nuusstories geflous.

In ’n stekie na Mamphela Ramphele wat vlugtig die DA se presidentskandidaat sou wees, het die Daily Sun berig die EFF-leier, Julius Malema, gaan nou die DA se topkandidaat wees.

Ander poetse sluit bewerings in dat die Springbok-vleuel Odwa Ndungane, die Proteas-kolwer AB de Villiers en Kaizer Chiefs se doelwagter Itumeleng Khune almal in die Suid-Afrikaanse netbalspan se oefengroep ingesluit is.

Die Mail & Guardian het weer beweer hulle het op ’n spesiale toer van pres. Jacob Zuma se woning Nkandla gegaan, en dat dié luukse woning baksteen vir baksteen opgebreek gaan word en verdeel gaan word tussen ander staatsamptenare.

Helen Zille sou byvoorbeeld die hoenderhok present kry.

Ondanks al dié grappe, wonder baie mense of daar nie waarheid steek in die aanlyn nuusblad Daily Maverick se nuusbrief wat vanoggend deur die radio-omroeper Gareth Cliff saamgestel is nie.

Gareth het gisteroggend aangekondig dat hy die radiostasie 5FM verlaat, en aanhangers is nuuskierig oor sy volgende loopbaanskuif.

- Mieke Vlok