Die inwoners van die Chinese dorpie Wenzhou sal vergewe word as hulle ’n oomblik gedink het hulle word deur ’n Bybelse plaag getref. Die rivier in dié dorpie het verlede week binne net ’n uur bloedrooi geword. Inwoners het gesê daar het ook ’n vreemde reuk in die lug gehang. Hulle het verder gekla dat hulle nie meer in die water kon visvang nie.

“Die vreemde ding is dat ons nog altyd die water kon drink omdat dit gewoonlik van so ’n goeie gehalte is. Niemand het enige idee hoe die rivier so besoedel kon word nie, want daar is geen fabrieke wat enigiets hier in die water stort nie,” het Na Wan, een van die inwoners, gesê.

Omgewingsinpekteurs kon nog nie die oorsaak van die rooi water opspoor nie, maar op grond van proefmonsters lyk dit asof die kleur deur die onwettige storting van kunsmatige kleurstowwe veroorsaak word.

“Ons vermoed iemand het kunsmatige kleurstowwe in die water gestort omdat hulle gedink het die tifoon (van verlede week) sal swaar reën tot gevolg hê en niemand sal (die kleur) raaksien nie. Maar die swaar reën het weggebly en die bewyse was dus sigbaar,” het een van die inspekteurs, Jianfeng Xiao, gesê.

Daar is blykbaar ’n papiervervaardiger, ’n koskleursel-maatskappy en ’n klerefabriek op die oewers van die rivier. Die voorval word nog ondersoek.

Bronne: Mashable.com, nbcnews.com, abcnews.go.com