’n Paar weke gelede het die Kaapse stadsraad die raad van voëlkenners ingewin om duiwe met natuurlike metodes te verjaag.

Hulle het die gebruik van roofvoëls voorgestel, wie se nuwe tuiste nou by die sokkerstadion is. Hulle maak seker die duiwe gaan nie op die bakvormige struktuur sit om ’n maklike maaltyd te verorber nie.

Die vraatsige duiwe het sowat 70 persent van die meerjarige rogsaad opgeëet wat ná wedstryde geplant word om die veld te onderhou. Die saad het nie tyd om te ontkiem nie, en duisende rande moet bykomend betaal word om dit aan te vul.

Die roofvoëls is afkomstig van die Eagle Encounters-rehabilitasiesentrum op die Spier-wynlandgoed by Stellenbosch. Dis sowat 50 km van die Kaapse middestad en die stadion in Groenpunt af. Die sentrum het ’n roofvoël-beheerarm, Raptor Force.

Die span bestaan uit Scarlet, ’n swerfvalkwyfie, Speedy, ’n edelvalkmannetjie, en Buddy. Twee Harris-valke, Thelma en Louise, sit ook af en toe ’n helpende klou by. Die voëls is nie daar om dood te maak nie, maar om die natuurlike gedrag te balanseer deur sterker roofvoël-gebiede te skep.

-  SAPA

sapalogo