Volgens onlangse toetsuitslae is daar genoeg moontlike beenmurgskenkers vir die twee Roodt-boeties met ernstige gekombineerde immuungebrek oor wie Huisgenoot onlangs berig het.

Woensdag was weer ’n baie bedrywig dag vir die Roodt-gesin wat by ’n Oos-Randse hospitaal moes aandoen vir Ruben (2) en Ruan (8 maande) se weeklikse stel roetinetoetse en binneaarse behandeling van sowat 9 uur lank.

“Die dokters moet weekliks vir alles toets, omdat selfs ’n piepklein kiem hul dood kan beteken,” vertel hul ma, Katinka Roodt, aan huisgenoot.com.

Die seldsame toestand van ernstige gekombineerde immuungebrek is verlede Desember by albei boeties gediagnoseer en hulle word nou behandel totdat hulle ’n beenmurgoorplanting kan ondergaan.

Hul bloed, speeksel, stoelgang en urine word onder meer getoets, en hulle kry binneaarse behandeling met teenliggaampies om hul immuunstelsel te versterk.

Intussen het onlangse bloed- en beenmurgtoetse – elkeen het altesaam 13 toetse ondergaan - aangedui dat daar vir Ruben agt moontlike beenmurgskenkers oorsee is; vir kleine Ruan is daar twee moontlike skenkers in Suid-Afrika sowel as sowat 57 moontlike skenkers oorsee.

“Die uitslae is ’n groot verligting,” sê Katinka, maar verduidelik gou dat dit nog ’n lang pad is wat voorlê. Daar moet nog veelvuldige toetse gedoen word om die mees gepaste skenker vir elkeen te kry.

Die seuns moet elkeen nog 13 toetse ondergaan.

Teen vieruur gistermiddag was Ruan al klaar met sy toetse en het ’n bottel melk geniet terwyl Ruben homself nog verkyk het aan al die inspuitings en buisies wat tydens die toetse gebruik word.

Katinka en haar man, Pieter, het besluit om vir elkeen ’n Hickman-toestel, ’n sentraleaar-kateter, te laat insit om hulle die pyn en ongemak te spaar van ’n spuitnaald wat elke week ingedruk word.

“Dit is nie ideaal nie, maar dit help. Veral met al die toetse is ons bang dat hulle are sal platval, en jy weet wat dit beteken,” sê die besorgde ma.

Aanvanklik het die seuns die teenliggaampie-behandeling net een keer per maand ontvang, maar Katinka verduidelik dat sodra hul immuunvlakke begin val, raak die risiko van ’n kiem optel soveel hoër. “Selfs ’n eenvoudige verkoue kan dodelik wees.”

Die seuntjies kry nou dié behandling weekliks en dit het hul lewensgehalte aansienlik verbeter. “Hulle is nou propvol energie en hardloop en gil die gang op en af,” vertel sy giggelend.

Katinka spog dat Ruan selfs die afgelope tyd goed gewig aangesit het.

“Ons troos onsself elke dag daaraan dat ons ’n dag nader aan ’n beenmurgoorplanting is”.

Maar sy en Pieter weet ook dat die oorplanting sy eie uitdagings en gevare inhou, onder meer ’n twee maande lange isolasie en chemoterapie vir vyf dae.

“Ons kan nie wag om ons seuntjies in ’n borrelbad te bad nie,” sê sy ewe optimisties.

Die paartjie is dankbaar vir die seuns se vordering en meen dat hulle op die oomblik so normaal en gesond moontlik is.

Omdat hulle siekte so duur is, het Katinka ’n groot Murgpypfees aanmekaargesit vir die komende naweek (3-4 Maart) op die sportveld van die Hoërskool John Vorster in Nigel.

Buiten pretritte, stoeigevegte, ’n motorskou en stalletjies, gaan kunstenaars soos Rooies en Karlien van Jaarsveld ook optree om geld in te samel vir die kinders se mediese koste.

“Wanneer my twee pampoentjies genees is, wil ek en my man graag met die fees volhard om ander meer bewus te maak van die siekte en te help om geld vir ander slagoffers in te samel,” sê die hoopvolle ma terwyl die twee seuns op die agtergrond gesels en speel.