Michelle Landman het Maandagoggend die laaste keer haar man, Paul, gegroet voor hy werk toe vertrek het.

“Gewoonlik ry ek voor hom werk toe, maar ek het die dag van die huis af gewerk en hom nog gegroet,” vertel sy aan Huisgenoot.

Paul (39) se werkgewer het net na 11:00 die oggend vir Michelle gebel om te hoor waar Paul is.

“Hy het gevra of Paul siek is en toe ek vir hom sê nee, Paul is werk toe, het hy net stil geraak.”

Michelle se suster het toe hospitale begin bel om te hoor of daar nie enige ongelukke aangemeld is nie. Die laaste teken wat die familie van Paul het, is toe daar geld rondom 09:00 uit sy rekening by ’n kitsbank in Randbridge-winkelsentrum onttrek is.

“Hy was sy gewone self gewees. Dit het glad nie gelyk of iets pla nie. Dit was net nog ’n normale dag gewees,” sê Michelle.

Indien enigiemand inligting het oor Paul kan hulle die Douglasdale polisiestasie kontak: 011 699 1333.