’n Tweejarige dogtertjie van Roodepoort in Gauteng is steeds onder verdowing ná ’n swaai-ongeluk nege dae gelede, maar sy beweeg haar voete liggies.

Juané Bothma se pa, Jaco, het Dinsdag gesê hul kind se liggaamstemperatuur is verhoog sodat haar liggaam kan rus.

Die kleuter is Sondag 10 Julie beseer toe sy ná kerk saam met haar ma, Jacqueline, en haar drie boeties by ’n lodge was. “Jacqueline het koffie gedrink, waarna sy Juané en haar boetie op die swaaie gestoot het,” het Jaco gesê.

Tydens die ongeluk was Jacqueline en die kinders by die gesin se vakansiehuis in Rooiberg, naby Thabazimbi in Limpopo, en Jaco was by die gesin se huis in Roodepoort. Hy het werk daar afgehandel voor hy die Dinsdag by sy gesin sou aansluit.

Jaco sê Jacqueline het gesê hulle moet binnetoe gaan om iets te drinke te kry. “Juané het van die swaai afgeklim en voor haar boetie ingehardloop.” Die swaai het haar teen die kop getref en haar skedel is gekraak.

Aanvanklik het hulle nie besef hoe ernstig die skade is nie, sê Jaco. Toe Juané begin opgooi, het hulle besef dis erger as wat hulle eers vermoed het.

Jacqueline het dadelik met Juané na ’n hospitaal op Thabazimbi gejaag, waar daar besef is daar is probleme. Later die dag is die kleuter per helikopter na die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg geneem.

Kort ná hulle aankoms by die hospitaal het paramedici vir ’n dokter gesê Juané gaan nie oorleef nie, maar die dokter het die gesin eers vier dae later van dié stelling vertel.

Nadat ’n noodoperasie uitgevoer is om ’n gedeelte van Juané se skedel te verwyder en so die drukking op haar brein te verlig, is sy in ’n geïnduseerde koma geplaas.

Die afgelope week was ’n kritieke tydperk waartydens klein Juané in die waakeenheid van die hospitaal om haar lewe moes veg. “Jou kind lê daar en jy weet nie wat om te verwag nie,” beskryf Jaco die eerste paar dae.

Maar die egpaar het deurentyd bly glo en vertrou die Here sou ’n wonderwerk verrig. “As dit nie vir die Here was nie, weet ek nie of sy hier was vandag nie,” sê Jaco. Hy sê hulle vriende het almal ingetree, gehelp en kos gebring. “Ons weet daar is duisende mense wat vir ons bid.”

[caption id="attachment_132011" align="alignnone" width="605"]Jaco Bothma en sy vrou, Jacqueline by Juané, toe nog ‘n baba, en hul seuns Luan (5), Dian (11) en Ewan (9). Jaco Bothma en sy vrou, Jacqueline by Juané, toe nog ‘n baba, en hul seuns Luan (5), Dian (11) en Ewan (9).[/caption]

Dit gaan nou beter. “Ons glo sy is buite gevaar,” het Jaco Dinsdag gesê nadat die dokter hulle ingelig het daar is ’n bietjie vog op haar brein, maar dat dit vanself behoort op te klaar.