Jaco Moorcroft (48), wiskunde- en tegnologie-onderwyser by die Laerskool Dr. Havenga, het Maandag kort voor tweede pouse ’n hartaanval gehad.

“Hy het voor die gr. 7-klas gestaan toe hy skielik inmekaargesak het. Ander onderwysers het daarheen gehardloop en die kinders uit die klas laat gaan,” het die hoof, Leon Visser, gesê.

Paramedici het hom drie adrenalieninspuitings gegee en ’n defibrillator (’n apparaat om die hartspiersametrekking te stop) gebruik om hom te probeer bykry.

“Hy is dood 15 minute nadat ek daar opgedaag het,” het sy vrou, Dorette, gesê.

Tussen die trane deur het sy gesê hy het gesterf terwyl hy gedoen het waarvoor hy lief was.

- Sapa