Die gespeel en gejil van kinders is altyd ’n gerusstellende geluid, maar soveel te meer wanneer dit ook skoon drinkwater beteken.  Klink dit dalk vreemd? Nie regtig nie as jy al gehoor het van Roundabout Water Solutions se Playpump-projek nie.

Die rondomtalie-uitvindsel, wat 17 jaar gelede begin is, word nou vir  party skole in Suid-Afrika ’n ál belangriker bron van skoon water.

Sandra Hayes, ’n direkteur van die organisasie sonder winsbejag, sê hulle het reeds 1 800  van die rondomtalies (wat water uit ’n boorgat pomp) by skole in Suider-Afrika geïnstalleer en daarmee 500 000 mense van skoon water voorsien. Van die 1 800 waterpompe is 1 000 in Suid-Afrika

“ ’n Gebrek aan skoon water is ’n baie groter probleem in Suid-Afrika as wat mense besef,” sê Sandra. “Die kinders is dol daaroor, en bo en behalwe dat dit as drinkwater dien, word dit voorsien dit ook water aan skole se groentetuine, wat in voedingskemas gebruik word.”

Die rondomtalie word bo-op die boorgat gebou en die draai-aksie daarvan pomp die water meganies uit die gat, wat na ’n kraan herlei word.

Sandra sê idee is ook om te keer dat jong meisies op die platteland dikwels lang afstande gestuur word om water te gaan haal. Sy sê hulle moet eerder in die skool bly waar hulle, en in party gevalle hul gesin ook, toegang tot die boorgatwater het.

“Die rondomtalie is dikwels die enigste speelapparaat tot die kinders se beskikking,” sê Sandra “Dit help kinders ook om hul energie konstruktief te gebruik. Skoon water verminder ook die risiko vir diarree.”

Elke rondomtalie wat hulle installeer, kos R110 000, maar eers moet daar ’n boorgat met drinkbare water geïdentifiseer word en hulle die nodige toestemming kry om dit te installeer.

Volgens Sandra sê skoolhoofde dit verhoog dit kinders se bywoning, voorkom dehidrasie en sorg boonop vir hope pret.