Die agentskap wil eers die huidige situasie in die land hersien voor hy sy oordeel oor ons kredietwaardigheid vel.

Die proses sal minstens ’n maand duur, en dalk beduidend langer.

Die internasionale graderingsagentskap, een van die sogenaamde ‘groot drie’, wil waarskynlik eers behoorlik aan die jongste Zunami gaan herkou en kyk wat verder op die politieke toneel ontvou.

Lees ook: Suid-Afrika se rommelstatus – sewe goed wat jy moet weet

Anders as S&P, wat die land Maandag - enkele dae ná die president se hoogs omstrede kabinetskommeling - met een kerf tot by rommelstatus afgegradeer het, het Moody’s Suid-Afrika tans op twee kerwe bo nie-beleggingstatus.

Daar was wel Maandag nog vrese dat hulle in S&P se spore sou volg en ons gradering dié keer met twee kerwe sou verlaag.

“Die besluit om (Suid-Afrika) op hersiening vir ’n afgradering te plaas, is aangevuur deur die skielike verandering in die leierskap van sleutelregeringsinstellings,” het Moody’s verklaar.

Dit het onder meer vrae geskep wat betref vordering met noodsaaklike beleidstappe vir ekonomiese groei en die onmiddellike implikasies “rakende openbare skuld en groeivooruitsigte, gegewe die negatiewe impak op kwesbare beleggersvertroue”, reken hulle.

Bronne: moodys.com, Reuters