Bloemfontein – ’n Bus het Maandagoggend in ’n muur van ’n parkeerarea op die derde verdieping van ’n gebou hier vasgery en twee voetgangers beseer toe stukke glas en bakstene op hulle neergestort het.

[caption id="attachment_109905" align="alignnone" width="600"]Bron: ER24.co.za Bron: ER24.co.za[/caption]

ER24 se woordvoerder Werner Vermaak het gesê die ongeluk het ongeveer 06:00 vanoggend in Central Park, Bloemfontein, plaasgevind.

“Die bus het in die muur van die parkeerarea vasgery. Die muur is op die derde verdieping van die gebou,” het Wener gesê.

“Ooggetuies het vertel rommel en glas van die bus se ruite het na onder gestort en op mense op die sypaadjie geval.”

Twee mense – ’n vrou vermoedelik in haar 60’s en ’n man in sy 30’s – is in die voorval beseer.

“Paramedici het net na 06:00 op die toneel aangekom waar hulle die beseerde man en vrou nog op die grond tussen die rommel gekry het. Die vrou het ernstige kopbeserings opgedoen, terwyl die man net ligte beserings aan sy kop en liggaam opgedoen het.

Albei is dadelik hospitaal toe vervoer. Niemand is in die bus beseer nie.

Die oorsaak van die ongeluk is ook nog nie duidelik nie.

Bron: News24