SKUINS voor sonsopkoms stap die blondekopsanger van Pretoria opgewonde oor die landingstrook van die Mabalingwe-natuurreservaat in Limpopo. Die koel oggendwind waai deur sy lang hare terwyl hy sy meisie van die afgelope vyf jaar, Almitra Botes (23), se hand vashou.

Adam Barnard (25), bariton van die mansgroep Romanz, dra die afgelope drie maande ’n groot geheim in hom rond, maar nou moet hy dit nog net ’n uur of wat vir homself hou . . .

Hy en Almitra, albei natuurmense, is op ’n wegbreeknaweek in die Bosveld, en vanoggend gaan hulle wild kyk – vanuit ’n warmlugballon. Die vlieënier wink hulle nader wanneer die ballon gereed is en die twee verliefdes klim in.

Oomblikke later vlieg hulle laag oor die boomtoppe terwyl kameelperde rustig onder hulle wei. Toe son oor die berge opkom, kan Adam dit nie meer hou nie: “My lief, sal jy met my trou?” vra hy die groot vraag en haal die verloofring uit sy sak. En natuurlik sê sy ja . . .

’n Uur later land die twee verliefdes met sterre in hul oë. Maar die verrassings is nog nie verby nie: Die personeel van die natuurreservaat wag hulle met ’n vonkelwynontbyt op die landingstrook in.

En die aand daag sy ouers en haar ouma op om die naweek saam met hulle deur te bring – presies soos Adam dit haarfyn beplan het.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 19 Augustus 2010