Baie mense sou dalk vandag wens om net ’n sandvlooi tussen die tone van die vier minnesangers van Romanz op Bloubergstrand te kon wees...

Want so het min aanhangers hulle nog gesien: André Venter (30), Louis Loock (29), Adam Barnard (25) en Burgerd Botha (23) so lekker loslit soos egte troebadoers van die son en die see.

Op die verhoog is hulle immer deftig in hul swart pakke en kraakwit hemde – hulle lyk sommer meer volwasse as hul jare. Maar vanoggend gee hulle hulself oor aan die strand – dis tyd vir ’n bietjie

ontspan.

Ná ’n warrelwindjaar op toer kruis en dwars oor die land mag hulle maar ’n slag die hempsknope losmaak en die dasse afhaal. Vanoggend is dit tyd vir baljaar hier by die see met Tafelberg wat in die

verte op die horison dobber.

En so af en toe klink hul engelstemme wel op vir die toevallige gehoor wat met handdoeke oor die skouer en honde agterna verbystap. Maar vandag sing hulle sommer vir die lekker.

“Sjoe, die strand is amper net so wit soos in Langebaan. Ons het nou die dag daar ge-show,’’ sê die kleinboet van die groep, Burgerd.

Vanaand tree hulle by Kaapstad se GrandWest-casino saam met NicholisLouw op, volgende week is hulle saam met Kurt Darren op die verhoog by Montecasino in Fourways in Johannesburg, en

oormôre ry hulle Botswana toe om daar op te tree.

In sy knielengteswembroek, frokkie en met gespierde arms ontbloot in die son lyk André, die getroude ouboet van die groep, vandag na allesbehalwe die sakeman vanWelkom en pa van twee woelige

seuns, Jandré (9) en Walroux (7).

Dit lyk eerder of hy daar doer in die see tussen die branderplankryers tuis hoort.

Vir die volledige artikel en baie meer foto's, koop die herfs-uitgawe van Tempo!

Op die internet:

www.romanz.co.za

Facebook-groep

Kyk bietjie wat gebeur agter die skerms tydens 'n fotosessie vir die herfs-uitgawe van Tempo met die aantreklike manne van Romanz.