'n Bietjie meer as twee jaar gelede het haar ma nog gebid dat sy ’n kêrel moet kry. En vandag stapEsmé Barnard (29) haar bruidegom tegemoet op maat van Romanz se Hallelujah, die sanggroep waarin hy self sing.

Waar Louis Loock (29) onder ’n wit afdak aan die voet van die skilderagtige Bainskloofpas buite Wellington vir haar staan en wag, verkyk hy hom aan sy bruid, prentjiemooi in haar wit bruidsgewaad aan haar pa, ook Louis, se sy.

En past. Riaan Bernardo skerts: ‘‘Julle is voorwaar die mooiste bruidspaar wat ek vandag getrou het.’’

Hulle het vandag as troudatum gekies, want presies twee jaar gelede op 5 Februarie het Esmé Louis se meisie geword.

‘‘Ek kan nie glo die Here het vir my so ’n goeie man gegee nie,’’ het sy vroeër aan Huisgenoot gesê.

En haar blonde ma, Sarette, wat vir hierdie dag gebid het, vertel: ‘‘Die aand toe Louis kom ouers vra, het ek gesê vir my is hy nie Louis Loock van Romanz nie; hy is die man wat sterre in my kind se oë bring, hy is ’n wonderlike man.’’

Nou staan hy langs sy bruid in haar pragskepping deur Paul-Muller de Kock, ’n gehoorgestremde vriend van Malmesbury, en luister na die pastoor se woorde.

‘‘Maak God die belangrikste stuurman in jul boot,’’ sê hy en benadruk die sewe boublokke vir die huwelik: “Leef ’n God-gesentreerde lewe; lewe met integriteit en eerlikheid; tree altyd onselfsugtig op; wees altyd getrou aan mekaar en altyd ’n rolmodel vir ander huwelike en ander jonges; wees een met mekaar en mag julle altyd positief teenoor die lewe, jul huwelik, vriende, familie en teenoor God wees.’’

Op die agtergrond, in hul ligblou uitrustings, sing The Voices of Angels, die kinderkoor wat deur Louis se pa, Hennie, afgerig word, Somewhere over the Rainbow knop-in-die-keel-mooi.

Die ander Romanz-manne is ook hier.

‘‘Ek wens hulle regtig die volheid van die Here se genade en seën toe vir die res van hul lewe,’’ sê Burgerd Botha ernstig terwyl hy wag om die bruidspaar geluk te wens met wit konfetti en silwer blinkertjies gereed in die hand.

Adam Barnard, wat aanstaande Januarie trou, knik sy kop. ‘‘Louis kon nie ’n beter lewensmaat gevra het nie,’’ voeg hy by.

Sien die pragfoto's en meer in die Huisgenoot van 17 Februarie 2011. Wees op die uitkyk vir die ikoon wat by die artikel in die tydskrif verskyn, kiek dit met jou foon en hoor wat die ander ouens van Romanz vir Louis en Esmé te sê het.